Ongeveer 60 mense het op Saterdag 12 September in Klapmuts vergader en aan ‘n jeugoptog vir vrede deelgeneem om ‘n verenigde en volgehoue aksie teen misdaad, geweld onder die jeug en bendegeweld te bepleit.
Die gemeenskapsinisiatief is deur pastoor Anthony Pietersen, ‘n speurder by die polisiekantoor in Klapmuts, gereël met ondersteuning van plaaslike rolspelers, waaronder die Stellenbosch Brigade en Klapmuts Youth Sports Organisation.
Ongeveer 30 vrywilligers van Shincheonji en 30 kinders uit die plaaslike gemeenskap het aan die program deelgeneem. Reën het die opkoms beïnvloed, maar jongmense en gemeenskapsleiers het steeds hul standpunt teen geweld gestel.
Volgens Pietersen is die stap aangespoor deur ‘n onlangse skietvoorval waarin ‘n 16-jarige meisie in ‘n bendeverwante voorval in die been geskiet is. “Ek kan dit nie goedkeur nie. Hierdie ding is nie reg nie. Ek moet iets doen,” het Pietersen gesê.
Hy sê verskeie rolspelers moet saamwerk om programme vir jongmense te ontwikkel en geweld in die gemeenskap aan te pak. “Ons moet almal betrokke kry, al die rolspelers, al die belanghebbendes, sodat ons programme vir ons kinders kan begin ontwikkel,” het hy beklemtoon. Pastoor Andries September sê geloofsgemeenskappe moet hul boodskap van vrede en respek verder as die kerk se mure neem.
Volgens hom moet kerke hul verskille opsy skuif en deur praktiese optrede eenheid in gemeenskappe toon.
Roy van Rooyen, ‘n wykraadslid in Klapmuts, het gesê die gemeenskap het meer fasiliteite en strukture nodig om in die uiteenlopende behoeftes van kinders en jongmense te voorsien.
Van Rooyen het gewaarsku dat daar nie kitsoplossings vir misdaad en bendebedrywighede is nie en dat langtermynbeplanning en samewerking tussen verskillende sektore nodig is.
Hy het ‘n beroep op jeug-, godsdiens-, sport- en gemeenskapsleiers gedoen om saam te werk. Volgens hom kan voormalige bendelede wat hul lewe verander het ook as rolmodelle vir jongmense dien. “Daar is hoop. Daar is altyd hoop,” het Van Rooyen gesê.
Die organiseerders het beklemtoon dat die stap nie as ‘n eenmalige oplos- sing beskou word nie, maar eerder as ‘n beginpunt vir verdere gesprekke oor jeugontwikkeling, gemeenskapsveiligheid en samewerking in Klapmuts.
Die deelnemers het daarop gewys dat geweld meer as net polisiewerk verg, met jeugontwikkeling, positiewe rolmodelle, geloofsgemeenskappe en langtermynbelegging as deel van die gemeenskap se reaksie.




