Jayden Williams, Good-kandidaat Stellenbosch
Jayden Williams (19), wykskandidaat vir Stellenbosch se Wyk 10.

Stellenbosch se 19-jarige kandidaat wil sy wyk ‘good’ maak


Terwyl sy maats naweke laat slaap of partytjie hou, loop Jayden Williams van deur tot deur en neem aan kiesersbyeenkomste deel. Dit alles ter voorbereiding vir die komende verkiesing waarin die 19-jarige as Good-kandidaat staan. Oor minder as drie weke sal Stellenbossers, en die res van die land, hul kruisies trek om hul nuwe plaaslike regering aan te wys. Onder die kandidate wat poog om die Eikestad te verteenwoordig, is Jayden, ‘n Hoërskool Lückhoff-alumnus.

Gebore in politiek

“Niks het my na die politiek gebring nie – ek is daarin gebore,” vertel Jayden. Hoewel hy uit ‘n stoere ANC-familie kom, was dit die Good-party by wie die jong Williams aangesluit het. “Ek het al die partye se manifeste deurgelees en dit was met die beginsels en sienings van Good dat ek my die meeste kon vereenselwig,” verduidelik hy.

“Dit gaan vir my eintlik nie oor politiek nie,” sê hy oor sy nominasie. “Dit gaan daarom om in diens van jou gemeenskap te staan. Ek het as 15-jarige reeds begin om in my gemeenskap te werk deur geldinsamelings te reël, pretdae en kleurlope te organiseer en insamelings vir behoeftiges te hou.”

Jayden Williams, Good-kandidaat Stellenbosch
Jayden Williams en sy Good-kollegas besig met stemwerwing in Stellenbosch.

Jayden het in Wyk 10 grootgeword en is deur sy grootouers grootgemaak. Hy beskryf dié paar as “voluit ANC-aktiviste”. Nadat hy gematrikuleer het, het Jayden ‘n jaar lank by Boland Kollege gestudeer en was tot onlangs ‘n YeBoneer. Die YearBeyond-program is ‘n provinsiale inisiatief om jongmense werkgereed te kry deur praktiese ervaring.

“Nadat ek by die party aangesluit het, het ek dié program verlaat. Politiek neem nou die meeste van my tyd in beslag, maar ek sien uit na 2027, of ek nou as raadslid gekies word of nie.”Jayden het vandeesmaand gehoor hy is aanvaar om volgende jaar teologie aan die Universiteit Stellenbosch te studeer.

“Gemeenskapswerk nie leë beloftes”

Vir nou maak hy egter gereed vir stemdag op 4 November. Jayden bieg hy moes aanvanklik oorreed word om amptelik by ‘n politieke party aan te sluit. “Ja, daar is ouer mense met meer ervaring vir die taak, maar ek kan ook nie blind wees vir die uitdagings wat jongmense soos ek ervaar nie. Ons mense leef in haglike omstandighede en dit voel soms asof die regering niks daaraan doen nie. “Die drie groot kwessies wat volgens hom prioriteit by die plaaslike regering moet geniet, is gemeenskapsveiligheid, bendegeweld en werkloosheid – veral onder jongmense.

LEES OOK: Election watch: The race is on for seats in Stellenbosch council

Hierdie is ook die kwessies wat hy sal aanpak as raadslid. “Ek maak geen beloftes nie. Ons sê nooit ons sal alles mooimaak en die probleme eenvoudig oplos nie. Ons help waar ons kan én die party neem sy rol as waghond van die regerende party ernstig op,” verduidelik Williams.

“Mense kyk na die geskiedenis van die [regerende] DA en wat hulle die afgelope drie termyne gedoen het, en tog ondersteun hulle ‘n party wat geen huise vir hulle gebou het nie.” Jayden sê in gebiede soos Cloetesville, waar inwoners “bo-op mekaar” moet leef, word ‘n omgewing geskep waarin euwels soos misdaad en bendegeweld hoogty vier. “Dit is nie genoeg om iemand R350 of ‘n kospakkie te gee nie. Ons het meer jeugprogramme nodig wat nie net jongmense help om vaardighede te ontwikkel nie, maar daar moet ook ‘n stelsel geskep word waar dié mense uiteindelik permanente poste beklee. Om meer jongmense in die munisipale raad te hê, beteken hulle het ‘n stem – en hulle bring energie en passie vir die saak.”

Deel van die kleinste demografie

Daarom glo hy meer jongmense moet hul kruisies trek. Naas Stellenbossers van 80 jaar en ouer (2 135) is Jayden se portuurgroep die kleinste demografiese groep geregistreerde kiesers. Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) was die nasionale gaping tussen stemgeregtigde Suid-Afrikaners en mense wat geregistreer is om te stem tydens die laaste nasionale verkiesing 30%.

Vir jong kiesers was hierdie gaping selfs groter: 73% van meer as twee miljoen stemgeregtigde jongmense was nie geregistreer nie. In Stellenbosch is 3 217 geregistreerde kiesers tussen 18 en 19 jaar oud. “Baie jongmense stel eenvoudig nie belang in politiek nie. Hulle is afgestomp en glo nie hul stem maak ‘n verskil nie,” verduidelik Robin Hendrickse, proporsionele raadslid en ‘n mentor vir Jayden in die party.

LEES OOK: Heelwat nuwe kiesers registreer om hul kruisie in November te trek

“Ons gaan nie alle jongmense se koppe swaai nie, maar ek glo as Jayden een jongmens kan aanspoor om te stem wat andersins nie sou nie, is dit ‘n wen,” meen Hendrickse. Sy meen dit is “ongelooflik” dat jongmense nou hulself in Good kan sien danksy Jayden.”Ek besef hierdie rol kom met baie verantwoordelikheid en daarom is integriteit en verantwoordbaarheid só belangrik,” sê Williams oor sy kandidaatskap. En wanneer die oproepe en boodskappe te veel raak, vlug hy na die Jan Marais-park om te stap en sy kop skoon te kry.

Hy meen mense moet besef watter krag hul stem werklik het. Daarom glo Jayden kiesersopvoeding moet reeds op skoolvlak begin. “Dan sal jongmense besef hulle hoef nie vir ‘n party te stem net omdat hul ouers vir daardie party stem nie. Wanneer jy deel is van die amptelike strukture, het jy die geleentheid om ‘n daadwerklike verskil te maak.” Williams glo “meer van dieselfde” gaan meeste plaaslike gemeenskappe niks baat nie. Williams spoor dus elke jong Stellenbosser aan om Woensdag 4 November aktief deel te neem aan die vorming van die volgende vyf jaar van Stellenbosch.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article