Ter viering van sy tiende verjaarsdag het die MiDO-stigting van Jamestown verlede Donderdag (15 Oktober) sy tiende digitale hub by die Strand Sekondêre Skool geopen.
Die Stellenbosse stigting help reeds ‘n dekade lank om digitiale laboratoriums by skole te open wat dit nie nodigste het. “By MiDO glo ons daarin om geleenthede te skep sodat jongmense nooit deur hul omstandighede teruggehou word nie. Hier ontvang leerders vaardighede wat hulle verder as net die klaskamer sal baat. Mag hierdie nuwe fasiliteit een wees waar leerders van Strand Sekondêr hul nuuskierigheid sal bring en leer om hul talente met geleenthede te verbind,” het Michelle Swartland, bedryfsbestuurder van MiDO gesê.
Benewens die nuutste laboratorium in die Strand, het die stigting laboratoriums in by die Hoërskool Stellenzicht, Groendal, Franschhoek, Nomzamo, Simanyene, New Orleans, Gordon, Rusthof en Lückhoff gestig.

Volgens Dale Simons, wat ‘n dekade gelede die MiDo-stigting begin het, lê die sukses van MiDO se laboratoriums in die skole wat dit gebruik en ‘n dryfveer vir onderrig en vaardigheidsontwikkeling maak. ” ‘n Paar jaar gelede het ek by hierdie skool aangekom, met die voorneme om die skoolbestuur te oortuig om hierdie inisiatief uit te bou. Dit is nou al ‘n paar jaar later, maar destyds was daar nie ‘n gunstige omgewing daarvoor nie. Ek kon ook nie ons finansierder oortuig om dit moontlik te maak nie,” vertel Simons.
LEES OOK: Kans vir leerders om te ‘ontsnap’ en skool te geniet
Sedertdien is die skool egter onder die bestuur van die skoolhoof Liezl Terhoeven geplaas en sy het besluit om MiDO se uitnodiging vir ‘n digitale hub met albei hande aan te gegryp. Terhoeven meen die skool se nuwe hub bied meer as net tegnologiese vordering.
“Dit gaan daaroor om ons leerders toe te rus met digitale geletterdheid, kuberveiligheid en leiersvaardighede buite die klaskamer. Dit gaan daaroor om ons opvoeders te ondersteun met die hulpmiddels en kennis wat hulle nodig het om ons kinders – ek noem hulle nie net leerders nie, maar ons kinders, my gemeenskap se kinders – voor te berei op die vinnig veranderende wêreld waarin hulle daagliks moet meeding. Dit gaan daaroor om ‘n werklike loopbaanpad te skep deur mentorskap en vennootskappe, en deur talent met geleenthede te verbind. Dít is ‘n geleentheid,” meen Terhoeven.

Elke hub het splinternuwe rekenaars wat toegerus is met die nodige sagteware waar leerders alles leer van kodering tot kuberveiligheid.
Danksy finansierders soos die Trim Tab-stigting word die leerders en hul onderwysers nie net toegerus met die nodig toerusting nie, maar klaskamers word só ingerig en ontwerp dat kwaaddoeners nie toegang tot die hubs kan kry nie. Vir die heel eerste hub het Simons self die klaskamer geverf, maar hy bieg die oprigting van hubs word deesdae deur kundiges behartig.

Priscilla Booysen, direkteur van die Rupert-onderwysstigting, sê die belegging van sowat R11,5 miljoen wat die stigting sedert 2019 saam met die MiDO-stigting gemaak het, is ‘n poging om daadwerklike geleenthede na skole te bring. Sy het gemaan die waarde van die digitale hubs word eers werklik ontgin wanneer skole eienaarskap van die laboratoriums neem en dit ‘n integrale deel van alle daagse onderrig maak.
LEES OOK: Nuwe skoolhoof is vol passie
Die Strandse seun en Suid-Afrikaanse Sewes-speler Tristan Leyds het die leerders aangespoor om die meeste te maak van geleenthede soos die hub en meen binnekort sal die beste entrepreneurs, ingenieurs en dokters vanuit die Strand se MiDO-hubs kom.






You must be logged in to post a comment.