Die openbare en private sektor het die afgelope Dinsdag byeengekom vir die aankondiging dat sekere aansoeke by die departement van binnelandse sake deur onder meer Capitec se banktoepassing gedoen sal kan word. By die geleentheid was Livhuwani Makhode (die direkteur-generaal van binnelandse sake), Leon Schrieber (die minister van binnelandse sake), Basani Maluleke (Capitec-hoof van kleinhandelbankwese) en Graham Lee (die uitvoerende hoof van Capitec). Foto: Yaël Malgas

Weg met lang rye en die stelsel wat “aflyn is” – doen nou aansoek vir jou paspoort of identiteitsdokument-slimkaart op jou banktoepassing op jou slimfoon.

Dit was wat die minister van binnelandse sake, Leon Schreiber, die afgelope Dinsdag (12 Augustus) by die hoofkantoor van Capitec-bank in Technopark aangekondig het. Schreiber se departement en Capitec, FNB en Standard Bank sal dit vroeg in 2026 vir Suid-Afrikaners moontlik maak om vir dié twee dokumente aansoek te doen. Dit sal dan later afgelewer word.

“Ons maak dit nie net vir Suid-Afrikaners makliker om hierdie noodsaaklike dokumente te bekom nie, maar verlig ook die werkslading van die departement se personeel, wat dan op take wat nie deur tegnologie verrig kan word nie, kan fokus,” verduidelik Schreiber.

Volgens die minister sluit dit dienste in soos om ongedokumenterde en onderbediende gemeenskappe regstreeks te help.

“Daar is enorme probleme waarby die departement nie uitkom nie. Laat registrasies van geboortes, Suid-Afrikaanse families, hele stambome wat nog nooit gedokumenteer is nie… Ek sou selfs so ver gaan as om te sê hele gemeenskappe wat nog nooit gedokumenteer is nie. Wanneer die departement so belas word met roetine-aansoeke dat dit fisiek nie by ander meer gekompliseerde dienste uitkom nie, skep jy eintlik ‘n tydbom, wat veel groter gevolge het as die frustrasie van iemand wat nie ‘n ID kan kry nie,” sê hy.

Smart ID and passport processing times slashed to five weeks for expats in Sydney and Melbourne.
Volgens die departement van binnelandse sake sal kliënte van Capitec, Standard Bank en FNB eersdaags aansoek kan doen vir ID’s en passporte via hul bank-toeps.

Volgens die departement het sowat 50% van besoeke aan sy kantore te make met die aansoeke vir dié twee dokumente.

Aansoeke vir ID’s en paspoorte kan reeds by 30 banktakke in die land ingedien word. Schreiber sê egter hierdie diens is ‘n duplisering van departmentele beamptes se werk en beteken daar is minder personeel in die kantore van binnelandse sake.

Hy sê die risiko van die groen ID-boek, oftewel die “groen mamba”, soos Suid-Afrikaners dit gedoop het, is enorm.

Die Suider-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens het bevind die meeste gevalle van bedrog in 2024 het met vals name en identiteite te make gehad. Tussen 2023 en verlede jaar is ‘n 429%-toename in gevalle aangemeld. Volgens die organisasie se 2024-verslag, wat in Maart vanjaar uitgereik is, bly identiteitsbedrog ‘n massiewe probleem, met vervalse ID-boeke of -nommers wat gebruik word.

Die organisasie sê hoewel sekere sektore biometriese tegnologie inspan om dié bedrog te verkom, bestaan verskeie sektore waar hierdie verfikasie nie gebruik word nie, steeds.

Die departement sal nou gebruik maak van die bankwese se algemene tegnologiese voortvarenheid om die aansoekproses te vergemaklik, maar ook die kans om

bedrog, omkopery en ander vorms van korrupsie aansienlik te verminder.

Graham Lee, die hoof van Capitec, sê om meer gedokumenteerde Suid-Afrikaners te hê, tel in banke se guns. “Ons het ‘n gevestigde belang in veiliger en meer stabiele stelsels wat ons bedrywighede ondersteun. Die departement van binnelandse sake is ‘n baie belangrike verskaffer van daardie stelsels – identiteit is van kardinale belang vir die vermoë om bestendige, veilige en skaalbare finansiële dienste te lewer.”

Dit maak ook nie seer dat banke meer sake uit die vennootskap kry nie.

Die departement hoop om uiteindelik ander aansoeke, soos die registrasies van geboortes, trou- en doodsertisfikate, ook op banktoeps moontlik te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article