Nicolaas Steenkamp, ‘n leerder aan die Hoërskool Stellenbosch, is een van drie jong wetenskaplikes van Suid-Afika wat volgende week aan die Interna- sionale Fees van Ingeneursweteskap en Tegnologie in Tunisië sal deelneem.

Die navoringsprojek van ‘n leerder van die Hoërskool Stellenbosch is onder drie Suid-Afrikaanse projekte wat vanjaar by die Internasionale Fees van Ingeneurswetenskap en Tegnologie (I-FEST²) in Tunisië ten toon gestel sal word.

Die projekte, wat werklike uitdagings in onderwysstelsels, lugvaartingenieurs- wese en kunsmatige intelligensie (KI) aanpak, is verlede jaar op die Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes gekies.

Die fees word van Maandag 23 tot Sondag 29 Maart deur die Tunisiese vereniging vir die toekoms van wetenskap en tegnologie vir jong wetenskaplikes tussen die ouderdom van 14 en 24 aangebied.

Nicolaas Steenkamp, ‘n gr.10-leerder aan die Hoërskool Stellenbosch, se navorsingsprojek, getiteld “Evaluering van die impak van versterkingsstrategieë op leerdoeltreffendheid en aanpasbaarheid in Q-leeralgoritmes,” is een van die drie projekte wat Suid-Afrika by die fees sal verteenwoordig.

Die ander twee navorsingsprojekte is deur Diya Zacaria (gr.11) van The High School For Girls Potchefstroom en Nathan Moolman (gr.11) van Leeuwenhof Akademie in Johannesburg.

Al drie leerders het op verlede jaar se ekspo medaljes gewen.

Anina Nel, die streeksdirekteur van die ekspo in Welkom, sal die leerders na Tunisië vergesel.

Die 16-jarige Stellenbosser se projek is vir sy duidelike verkenning van versterkingsleerbeginsels deur middel van ‘n vereenvoudigde berekeningsmodel gekies. Nicolaas het ‘n Q-leeragent ontwikkel om die spel Hexapawn te speel, wat met hulp van drie versterkingsbenaderings opgelei is: slegs beloning, slegs straf en ‘n gekombineerde beloning-strafstrategie.

“As primêre befondser van die Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes is Eskom baie trots dat hierdie talentvolle jong navorsers SA by die I-FEST² verteenwoordig,” sê Mologadi Motshele, waarnemende uitvoerende direkteur van die Eskom-ontwikkelingsstigting.

“Hul deelname weerspieël die sterkte van die land se opkomende wetenskaplike talent, asook die belangrikheid daarvan om platforms te bied waar jong innoveerders hul idees met die wêreld kan deel.”

Sy sê die drie leerders dra nie net tot die internasionale wetenskaplike dialoog by nie, maar ook tot die ontwikkeling van oplossings wat volhoubare groei en tegnologiese vooruitgang in opkomende ekonomieë kan ondersteun.

  • Skoolleerders van gr.4 tot 12 kan nou inskryf vir vanjaar se Eskom-ekspo. Navorsingsprojekte kan aanlyn by www.exposcience.co.za geregisteer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article