Diens met deernis is die slagspreuk van Geluksoord in Onder-Papegaaiberg en is al die afgelope 45 jaar die dryfveer agter suster Connie Lindoor se jare van diens.

Lindoor (69) het onlangs haar 45ste jaar by die tehuis vir bejaardes gevier en sê sy het geen planne om af te tree nie. “Daar is ‘n Vader hierbo en so lank Hy my die krag gee om na die oumensies te kyk, sal ek. Dit is nog lekker om elke oggend te kan opstaan en te weet ek kom hier werk,” vertel Lindoor.

Hoewel sy deesdae in Eersterivier woon, is Lindoor oorspronklik van Idasvallei. Tydens haar skooljare aan die Hoërskool Lückhoff het sy eers gedink sy sal ‘n onderwyser word, maar verpleging was uiteindelik haar loopbaan en sy sê sy dank die Here dat Hy haar tot hierdie diens “geroep het”.

Suster Connie Lindoor ontvang haar sertifikaat vir 45 jaar getroue diens by Geluksoord in Onder-Papegaaiberg. By haar is Anessa Fuller en Ide-Marie Venter.

Volgens Lindoor se kollegas het nie ‘n dag verbygegaan wanneer dié gesoute geneeskundige nie haar beste vir die inwoners van die oord gegee het nie.

Tania van Zyl sê dit is veral Lindoor se koelkop kalmte wat haar inspireer. Vir Anessa Fuller, Lindoor se lynbestuurder, is dit besonders om te dink Lindoor het self die meeste van die oord se stelsels ingebring toe sy op 1 Desember 1980 begin werk het.

Lindoor vertel: “Dit voel soos gister. Ek kan onthou op my eerste dag toe ek hier ingestap het, was hier nie veel nie – net een trollie, nie juis toerusting nie – maar ons het dit laat werk. Ek moes op ‘n stoel staan om in die kas te kom waarin ons al die medisyne aangehou het. Buiten ‘n noodgeval het die streeksgeneesheer net op Donderdae ingekom om al die pasiënte te ondersoek. Ek is in die diepkant ingegooi, maar ek het geswem,” vertel sy skertsend.

Voor haar dae by Geluksoord het sy by die Tygerberg-hospitaal gewerk. Die reis was destyds ‘n groot struikelblok, want as sy die bus terug Stellenbosch toe gemis het, was dit dit.

Die pos by die oord was ideaal en toe vorder sy van baba’s na bejaardes.

Lindoor kan nie oor die oord se inwoners uitgepraat raak nie. Sy sê die nommer-een-reël van haar beroep is om lojaal teenoor haar kliënte te wees – nie dat sy hulle “kliënte” noem nie, want vir haar is die tehuis se inwoners familie.

“Wanneer hulle gelukkig is, is hul familie tevrede, en dit is die belangrikste. Soggens kom ek in, gaan van kamer tot kamer en hoor wat is hul kwale, pyne en hoe lyk hul dag. Soms moet jy bemoedig of moed inpraat, maar die meeste van die tyd is dit net om ‘n oor te bied.”

Lindoor meen enigeen wat ‘n verpleegster wil word – veral vir bejaardes – moet deernis, lojaliteit, respek en geduld hê. Dit is eienskappe waaroor Lindoor beskik. “Hierdie is nie iets wat jy vir ‘n salaris doen nie – dis vir die liefde van die saak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article