Die Pniël Villagers-rugbyklub het op Woensdag 19 November drie bekers by die Westelike Provinsie-rugbyunie se bekeruitdeling ontvang.
‘n Gesamentlike bekeruitdeling is gehou vir wenners van 2024 en 2025, aangesien geen bekeruitdeling verlede jaar gehou is nie.
Winston Stubbs, die voorsitter, het gesê die bekers is die toppunt van die klub se prestasies vanjaar en hy het ook sy dank teenoor die klub se ondersteuners, borge, ouers en spelers, wat in die klub belê het, uitgespreek.

Opwindende toernooi
Die klub bied in Februarie die eerste Dwarsrivier-7’s-toernooi aan. Dit is ‘n geskiedkundige gebeurtenis, wat daarop gemik is om alle rugbyklubs in die hele Dwarsriviervallei en omgewing byeen te bring in ‘n fees van gemeenskapsrugby en sportgees.
“Ons beskou hierdie toernooi as ‘n mylpaal vir rugby in die vallei en die beplanning is al in ‘n gevorderde stadium.
“Dit sal ‘n unieke geleentheid wees waar elke klub sy talent kan wys en die gemeenskap soos nog nooit tevore nie bymekaar sal bring,” sê Stubbs.
Eerste vir gemeenskappe
Klubs wat gaan deelneem, sluit in Kylemore, Lanquedoc, Simondium, La Motte, Meerlust, Klapmuts, Franschhoek en Wemmershoek. Dit sal ook die eerste keer wees dat die gemeenskappe saam op een veld meeding.
“Die 7’s is daarop gemik om eenheid, trots en sportontwikkeling binne die Dwarsriviervallei te bevorder en dit beloof om ‘n jaarlikse hoogtepunt op die plaaslike sportkalender te word. Die besonderhede oor die datum, formaat en program sal binnekort aangekondig word,” sê hy.
- Belangstellende klubs word aangemoedig om Pniël Villagers spoedig te kontak. Bel Lisa Myburgh by 062 293 2869 of Winston Stubbs by 071 567 1273.





You must be logged in to post a comment.