Die handjievol bewoners wat hulle in die Devonvallei-noodkamp gevestig het, beweer die min munisipale dienste wat hulle wel ontvang, is besig om hulle siek te maak.
Die Stellenbosch-munisipaliteit het die noodkamp in Mei 2021 gevestig om behuising aan ‘n groep mense wat in Devonvallei geplak het, te verskaf. ‘n Hofbevel is destyds aan die munisipaliteit uitgereik om alternatiewe verblyf aan 11 gesinne te verskaf.
Sedert die stigting van die noodkamp, wat bestaan uit Wendyhuise en twee chemiese toilette, het nog gesinne onder ‘n afdak langs die Wendyhuise ingetrek – desperaat vir blyplek.
“Ek het nou vir die derde keer TB opgedoen. Ek is nou weer op behandeling, maar ons slaap buite, so dit help nie dat ek gesond kan raak nie. Die winter was baie koud, maar ek kan nie na my ma gaan nie, want daar is nie plek vir ons nie,” vertel Marco Syster (30).

Marco, sy vriendin en hul twee maande oue baba slaap saans onder ‘n seil onder die afdak. Sy broer, Marshall (27), is ook onder die bewoners van die noodkamp en vertel op sy beurt hoe die klein gemeenskap weens ‘n gebrek aan dienste swaarkry.
“Hier is niks elektrisiteit nie, hulle kom vat nie die vullis weg nie en ons het net twee toilette vir ons almal, om nie eens van die water te praat nie. Die water het die meeste van ons al siek gemaak. Ons kry gereeld wurms in die water,” beweer hy.
Met Eikestadnuus se besoek aan die gemeenskap was die vullisdromme vol en vlieë was oral, ten spyte daarvan dat munisipale beamptes dieselfde oggend ‘n hoop rommel, wat voor die toilette gestort is, kom verwyder het. Die toilette word twee keer ‘n week deur die munisipaliteit skoongemaak.
Ten spyte van hul klagtes oor die watergehalte, gebruik inwoners steeds die enigste gemeenskaplike kraan.
Klagtes oor die onhigiëniese toestand by die noodkamp en swak watergehalte is reeds in Februarie deur die GOOD-raadslid Marius van Staden onder die munisipale raad se aandag gebring. Van Staden het later vanjaar weer na die munisipaliteit uitgereik nadat ‘n bewoner, Arno Visagie (44), in Mei as gevolg van gastro-enteritis ‘n noodoperasie by die Tygerberg-hospitaal moes ondergaan.
“Die dokters het verduidelik die bakterieë in my ingewande het veroorsaak dat my dikderm gebars het. Ek was langer as twee maande in die hospitaal.”
– Arno Visagie (40) inwoner van die Devonvallei-noodkamp.
“Hulle het my gevra oor my verblyf, wat ek eet en die water wat ek drink en daarvolgens het hulle gesê dit is gewis as gevolg van die omstandighede hier dat ek die bakterieë opgedoen het,” verduidelik Visagie. Hy sê die dokters het hom verbied om weens sy gesondheid na die noodkamp terug te keer.
Hy woon tans by sy ma, maar bieg daar is nie werklik plek vir hom nie. Visagie sê die operasie het sy lewe verander. “Vir nou loop ek ook met ‘n dreineringsakkie vir my ontlasting. Ek moet oor ‘n paar weke teruggaan hospitaal toe om te hoor of dit permanent sal wees.”
Medici was so bekommerd oor die omstandighede van Amber Jacobs (26) en haar kinders se blyplek in die noodkamp dat ‘n plaaslike maatskaplike werker ‘n brief aan die Stellenbosch-munisipaliteit se behuisingsafdeling gerig het vir alternatiewe behuising vir die gesin.
Jacobs het in 2023 op 29 weke aan twee seuntjies geboorte geskenk. Isaiah en Malachai is in April 2023 met verskeie gesondheidsprobleme gebore en die hospitaal het Jacobs aange- raai om nie na die tydelike blyplek in Devonvallei terug te keer nie. Malachai is sedertdien weens sy gesondheid oorlede, terwyl dit blyk Isahai (2) sal vir altyd gesondheidsprobleme hê.
“Omdat hulle vroeg gebore is, was hulle natuurlik baie vatbaar vir siektes en Isaiah sukkel steeds. Hy het al long- en nierinfeksies opgedoen, maar wat kan ek doen?” vra ‘n emosionele Jacobs.
Sy sê sy is op die munisipale behuisingswaglys, maar het nog nie weer terugvoer ontvang nadat sy haar naam op die lys gesit het nie.

By navraag het Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die munisipaltieit, bevestig vyf inwoners van die noodkamp is op die munisipale behuisings- waglys. “Op die goedgekeurde munisipale behuisingspyplyn is grond in die Devonvallei-gebied geïdentifiseer, wat vir behuisingsdoeleindes aangewend kan word.
“Die grond behoort egter aan die nasionale departement van openbare werke en infrastruktuur. Die munisipaliteit is in gesprek om moontlik toegang tot die grond vir toekomstige ontwikkeling te verseker,” sê Grobbelaar.
Hy sê voorts die watergehalte word voortdurend gemonitor en waar probleme voorkom, word dit onmiddellik reggestel. “Amptenare het die drinkbare water uit die staanpyp getoets en bevind dat die water van ‘n veilige drinkgehalte is. Daar is ook dienste in die aangrensende gebied, insluitend 17 ablusiegeriewe en verskeie waterpunte.”
Volgens Van Staden is gehoor gegee aan sy klagtes aan die munisipaliteit om die noodkamp skoon te maak, maar “die gebied is nie volgens aanvaarbare standaarde skoongemaak nie”.
Hy sê die gebrek aan gereelde dienslewering verger die gesondheids- en veiligheidskrisis verder.






You must be logged in to post a comment.