Inwoners van ‘n woonstelblok in Kloofstraat, Cloetesville, het die afgelope Maandag (8 September) ‘n stokkie voor die Stellenbosch-munisipaliteit se planne gesteek om die naasbestaandes van wyle Elsie Paulse twee dae ná haar begrafnis uit haar munisipale woonstel te sit.
Paulse, wat dekades lank in woonstel E3 gewoon het, is Saterdag 23 Augustus ná ‘n lang siekte oorlede. Haar gesondheid het die afgelope jare so agteruitgegaan dat Chante Anthony (26) twee jaar gelede by Paulse ingetrek het om na die bejaarde om te sien.
Paulse is die afgelope Saterdag (6 September) ter ruste gelê.
Die volgende dag (Sondag) het Anthony ‘n brief van ‘n munisipale beampte ontvang wat gesê het sy moet die volgende dag (Maandag) teen 10:00 uit die woonstel wees.
“Sy het net die brief voor my gedruk en gesê ek moet teken. Sy het my nie eens kans gegee om die brief deur te lees of enigiets vir my oor die brief verduidelik nie,” vertel Anthony oor die kennisgewing wat sy ontvang het.
Volgens die brief, wat Eikestadnuus onder oë gehad het, het die huurooreenkoms met Paulse se afsterwe geëindig. Die sleutels moes dus aan die Stellenbosch-munisipaliteit terugbesorg word.
Volgens die skrywe moes die woonstel afgegee word om dit gereed te kry vir die volgende huurders. Die gesin is sewe dae gegee om al hul besittings te verwyder. ‘n Groep inwoners het egter Maandag gekeer dat Anthony die sleutels oorhandig.
“Harteloos! Die arme vrou is nou net begrawe!”
het inwoners munisipale amptenare uitgekryt.
Inwoners wou by die raadslid Rozette du Toit weet hoekom amptenare op ‘n naweek amptelike briewe oorhandig en hoekom Paulse se naasbestaandes slegs 24 uur gegee is om uit te trek.
Gemoedere het hoog geloop terwyl Du Toit verduidelik het volgens die munisipaliteit se inligting is die woonstel slegs deur Paulse en haar seun Vernon verhuur. Vernon is verlede Desember oorlede.
Die munisipaliteit voer nou aan alle ander bewoners moet uit – dit ten spyte daarvan dat Paulse se ander seun, Gerald, steeds in die woonstel bly. “Gerald werk in die gasvryheidsbedryf in Kaapstad en kom daarom nie elke aand huis toe nie, maar hy woon steeds hier,” verduidelik die buurvrou Heidi Sauls.
Sauls meen dit is skandelik dat die munisipaliteit Gerald sowel as Anthony, haar een-jarige seuntjie, en haar ma se besittings “in die straat wou sit”.
“Ek het soms met Auntie Elsie gehelp. Ek is bewus van wie hier in en uit is en Gerald se besittings is steeds hier. Hy woon hier en het selfs gesorg die huur is twee maande vooruit betaal.”
Die gemeenskap voer aan Anthony is so goed soos Paulse se kleinkind aangesien haar ouma en Paulse susters was. Met haar ouma, Rina, se afsterwe meer as 20 jaar gelede, het Paulse haar oor Anthony en haar ma ontferm.
Ander huurders wou niks hoor van Anthony se uitsetting nie. “Waarheen moet hulle gaan? Hoe op aarde kan julle vir die mense sê hulle moet hul nodigste besittings vat en uit? Waarheen verwag julle moet die vrou haar seuntjie neem?” wou nog ‘n huurder, Jehrusia Beneke, by Du Toit weet.
Beamptes van Stellenbosch se behuisingskantoor is glo Maandag na die Cloetesville-polisiekantoor om ‘n klagte van onwettige besetting teen Anthony aan te meld.
By navraag het Stuart Grobbelaar, woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, gesê ‘n standaard en respekvolle proses word in sulke gevalle gevolg.
“In hierdie geval het uitgebreide familielede en ander individue, wat nie in die woonstel gewoon het nie, ‘n reg geëis om die eiendom te beset. Ons wil dit duidelik stel dat die munisipaliteit niemand uitgesit het nie en ook nie op ‘n wyse opgetree wat onbillik of onvanpas is nie. Die enigste stappe wat geneem is, was om die sleutels aan te vra in ooreenstemming met die standaardprosedure,” het Grobbelaar gesê.
Intussen het die burgemeester, Jeremy Fasser, en Du Toit Maandagaand die familie besoek om agter die kap van die byl te kom en toe te sien dat die regte prosedure gevolg word. Anthony, haar seun en ma bly vir nou in die woonstel.
“Die munisipaliteit bly daartoe verbind om te verseker dat munisipale woonstelle billik, deursigtig en in ooreenstemming met beleid toegeken word. Ons hoop die saak sal vinnig opgelos word sodat die regmatige familie wat op die woonstel wag, op ‘n waardige en billike wyse verblyf kan neem,” sê Grobbeaar.
Sauls sê sy is trots op die gemeenskap wat saamgestaan het.





