Ek is baie beïndruk met die Stellenbosch-munisipaliteit se beleid dat van die nuwe behuising 20% “bekostigbare” behuising moet wees (“Dorp lei met dié huise“, Eikestadnuus, 31 Julie). Ek was nie bewus daarvan nie.
Dit is ‘n positiewe stap wat eintlik nasionale beleid moet wees. In Engeland is dit al meer as 50 jaar gelede ingestel.
Maar, hoewel die beleid baie met die probleem met behuising sal help en noodsaaklik is, spreek dit nie die groot probleem aan nie, naamlik die enorme behoefte aan laekoste-behuising. [Daarmee bedoel ek] behuising vir mense met min of geen inkomste. Kyk maar net na die enorme informele-behuising-uitbreiding suid van Khayamandi teen Papegaaiberg.
Niemand weet wat die oplossing is nie. Mense stroom in van oor die hele Afrika. Dit gaan nie net oor behuising nie, maar ook skole, hospitale, sosiale dienste – en natuurlik werksgeleenthede.
Kinders moet goeie skoolopleiding kry, wat hulle in staat sal stel om vir werk opgelei te kan word as hulle die skool verlaat, sodat hulle ‘n inkomste kan verdien. En dan moet daar genoeg werksgeleenthede wees – wat Trump se nuwe tariewe nog moeiliker maak.
Dit is ‘n landwye probleem wat deur die sentrale en provinsiale regerings aangedurf moet word.
Dus, baie dankie, Stellenbosch-munisipaliteit, maar, Stellenbossers, Suid-Afrika- ners – wat gaan ons doen om die groot probleem op te los?
Dr. Pieter Claassen, STELLENBOSCH




