Botmaskop-ontwikkeling
Werk aan die omstrede Botmaskop-ontwikkeling is vir eers gestaak.

Die stryd oor die Botmaskop-ontwikkeling duur voort in die Kaapse Hooggeregshof waar die Stellenbosch-belangegroep (SBG) onder meer die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, die Stellenbosch-munisipaliteit, asook die ontwikkelaars van die Botmaskop Fynbos-landgoed, Staytus, voor die hof gedaag het.

Die belangegroep se aansoek vra die hof om die goedkeuring vir die omstrede projek te hersien en tersyde te stel. In April 2025 het die hof bepaal dat enige verdere konstruksiewerk vir die luukse woonbuurt aan die hange van Botmaskop opgeskort moet word tot die hof finaal kan uitspraak lewer oor of al die nodige prosedures vir die ontwikkeling gevolg is.

Die SBG sê die natuurskoon van Botmaskop, waar die ontwikkeling geleë is en wat aan ‘n gedeelte van die berg grens wat onder stappers en fietsryers gewild is en waar die plantkundige dr. Brian du Preez ‘n bedreigde spesie van die Moraea-plantfamilie ontdek het, sal in die slag bly.

LEES OOK: ‘Geen verdere werk aan Botmaskop’

Die SBG voer aan die omgewingsmagtiging wat in 2021 deur die Wes-Kaapse departement goedgekeur is, is nie geldig vir die huidige projek nie.

Die SBG betoog ook die skade wat verder aan die berg weens die ontwikkeling aangerig sal word, sal “katastrofiese gevolge” hê.

LEES OOK: Botmaskop-storm vererger: Kriminele klagtes ingedien

Die saak is in Februarie 2025 deur regter Melanie Holderness aangehoor, wat haar uitspraak oor die saak voorbehou het. Sy het wel laat verlede jaar gesê die hof het genoegsame bewyse onder oë gehad om die tydelike interdik teen die Botmaskop Fynbos-landgoed toe te staan.

Geen verdere bouwerk of ander werk kon tot op hede by die beplande landgoed gedoen word nie.

Die SBG sowel as die respondente het Dinsdag en Woensdag (10 en 11 Maart) in die hof verskyn.

Uitspraak word later vanjaar verwag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article