Simone van der Merwe het in Desember sewe medaljes by die wêreldkampioenskap in Mosselbaai gewen.
Simone van der Merwe het in Desember sewe medaljes by die wêreldkampioenskap in Mosselbaai gewen.

STELLENBOSCH – ‘n Atleet van die Hoër Meisieskool Bloemhof is vinnig besig om ‘n naam vir haarself in moderne vyfkamp te maak.

Simone van der Merwe het tydens die Desember-skoolvakansie Suid-Afrika by die wêreldkampioenskap vir biathle, triathle en laser run in Mosselbaai verteenwoordig.

Hier het die 17-jarige sewe medaljes – ses goud en een silwer – gewen en is as die o.19-meisies-wêreldkampioen in biathle en laser run gekroon.

Die talentvolle atleet het individuele goud in biathle en laser run gewen, silwer in triathle, asook goud vir laser run- gemengde aflos gewen. Sy was ook lid van die span wat goud vir al drie dissiplines gewen het.

Die goue meisie! Simone met die medaljes wat sy by die wêreldkampioenskap gewen het.
Die goue meisie! Simone met die medaljes wat sy by die wêreldkampioenskap gewen het.

“Sjoe, dis iets wat amper nie beskryf kan word nie,” sê Simone oor haar emosies toe sy eerste oor die wenstreep getrap het.

“Voor die tyd is ‘n mens maar baie gestres en opgewerk, so toe ek nou uiteindelik oor die wenstreep gaan, het ek definitief ‘n gevoel van dankbaarheid ervaar, maar tog ook verligting om te weet dat jou harde werk nie verniet was nie. En die lekkerste gevoel is om te weet dat ons God ons nooit verlaat nie en dat Hy dit oor en oor vir ons bewys.

“Dis soveel meer as ‘n medalje of titel; dis iets wat ek met soveel mense deel wat hierdie pad saam met my gestap het – daar was moeilike en goeie tye. Die feit dat my afrigter, Dieter Voigt, ook daar was om dit saam met my te beleef, het ook vir my baie beteken.”

LEES OOK: Ses goues vir meisie van Bloemhof

Die sewe medaljes wat Simone op Santos-strand gewen het, kom nou by die 18 ander wat sy van 2018 tot 2024 by die wêreldkampioenskappe gewen het.

Die matriekleerder het in 2017, as negejarige, by die Laser Run-wêreldkampioenskap in Kaapstad haar buiging gemaak. Hoewel sy nie hier op die podium geëindig het nie, is dít waar haar liefde en passie vir die multisport begin blom het.

Simone het in 2015 biathle (hardloop en swem) begin en die volgende jaar triathle (laserskiet, hardloop en swem) en laser run begin oefen.

Simone in die aksie in die laserskiet-been op Santos-strand in Mosselbaai.
Simone in die aksie in die laserskiet-been op Santos-strand in Mosselbaai.

“Dit was bietjie anders as die gewone swem en hardloop, of soos baie mense doen, tweekamp,” sê sy oor wat aanvanklik haar belangstelling in die sportsoorte geprikkel het.

“Wat dit lekker maak, is dat dit alles aaneen is en ‘n mens weet nooit wie regtig die resies gaan wen nie, wat dit baie fassinerend maak om te kyk. Die sport gee jou die geleentheid om die wêreld te verken, terwyl jy daaraan deelneem en jou land verteenwoordig. Ek het so baie lesse geleer, vriende gemaak en werklik geleer wat harde werk is.”

Benewens haar prestasies in die multisportsoorte is Simone ook ‘n kranige baanatleet wat veral in die 400m-hekkies en middelafstande (800m en 1 500m) uitblink. In dié sport neem sy ook ook elke jaar op nasionale vlak deel.

Sy is ook ‘n provinsiale hokkiespeler wat sedert 2024 lid is van Bloemhof se eerste span asook die skool se swemspan.

Die kranige sportvrou blink nie net in multisport uit nie, maar is ook 'n kranige baanatleet, swemmer en hokkiespeler.
Die kranige sportvrou blink nie net in multisport uit nie, maar is ook ‘n kranige baanatleet, swemmer en hokkiespeler.

As toegewyde sportvrou, akademiese uitblinker en Bloemhof-leier moet Simone haar tyd tussen haar passie, akademie en ander skoolverpligtinge verdeel, asook seker maak dat sy genoeg hersteltyd het.

Sy oefen vyf tot ses dae per week atletiek, met een of twee rusdae, swem tussendeur, “soms baie vroeg in die oggend”, en besoek ook een of twee keer per week die gimnasium.

“Ek glo ek vind nog altyd ‘n goeie balans tussen my akademie en sport,” sê Simone. “Van kleins af het ek geweet dat daar ná skool nie baie tyd gaan wees vir huiswerk nie, so jy moet maar in die klas doen wat jy kan doen. Ek het baie geleer van dissipline tydens my sportloopbaan wat definitief ‘n postitiewe rol in my lewe speel.”

LEES OOK: Simone vuur en vlam voor SA kampioenskap

Wanneer sy nie op die sportveld is of agter die boeke sit nie, geniet Simone dit om tyd met haar gesin en vriende te spandeer, ‘n outobiografie te lees of ‘n nuwe avontuur aan te pak, want sy “sal altyd ja sê vir enige avontuur”.

Sy hoop om ná graad 12 haar studies in die buiteland voort te sit en steeds aan haar geliefde sportkodes deel te neem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article