Die inwoners van HospiCare en die Agapé-aftreeoord kry een keer ‘n maand ‘n musikale bederf danksy Henk Cerfonteyn en Danie Baard.
Die twee musiekmanne het begin saamspeel nadat hul vroue ‘n paar jaar gelede ontmoet het.
Wat as ‘n prettige stokperdjie begin het, het nou ‘n maandelikse instelling by die tehuis geword, waar inwoners die vertoning in die eetsaal of selfs in hul kamers geniet.
Volgens Cerfonteyn speel die duo goue oues en Baard maak seker daar is ook genoegsame tradisionele Afrikaanse treffers.
“Daar is tye – veral met die demensie-pasiënte – wanneer ons ‘n liedjie speel en jy kan die skielike lig in hul oë sien. Dit maak my dag!” verduidelik Baard.
Verlede Vrydag (13 Februarie) is ‘n spesiale vertoning met die oog op Valentyndsdag (14 Februarie) gehou en bekende treffers van Engelbert Humperdinck, Elvis Presley en Pat Boone was op die speellys.

Die duo het ook seker gemaak hulle speel Nico Carstens se “Jampot Polka”, wat veral gewild onder die inwoners is.
Op 82 jaar sê Lilias van Wyk die uur van musiek help om haar jonk te hou. Sy is gewoonlik een van die eerstes om op te spring vir ‘n dansie.
Tussen Baard en Cerfonteyn speel hulle minstens ses instrumente, wat alles van ‘n klawerbord tot ‘n mondorrel insluit.
Hoewel hy bieg dat hy steeds die instrument leer ken, bring Baard ook sy 300 jaar oue viool saam. Hierdie viool het hy as tienerseun in sy tannie se solder in Moorrreesburg in ‘n skoenboks gevind. Die viool, wat toe in stukke was, is saam met hom terug na Middelburg na afloop van die familiekuier en Baard het dit as 13-jarige gerestoureer.
Min het hy egter geweet hy moes nie die vernis afskuur nie en het sommer kouelym gebruik om die stukke aanmekaar te plak.
“Dit was my oupagrootjie s’n wat hulle gebruik het om tydens hulle reistogte tussen dorpe musiek te maak. Binne die viool staan dit is vir die eerste keer in 1927 gerestoureer, en ek het natuurlik ook oor my handewerk in 1973 geskryf,” sê Baard.
Benewens die musieksessies besoek ‘n groep viervoetige vriende ook maandeliks die oord, sowel as ‘n instrukteur wat stoel-oefensessies bied.
Volgens Liana le Roux, wat aan die stuur van die verpleërs is, is hierdie sessies ‘n hoogtepunt vir inwoners. “Die musiek het vir die inwoners so belangrik geword – hulle helder op tydens sessies en dit bied ‘n bietjie verandering in hul alledaagse roetine,” sê Le Roux.
Die musiekmanne sê die uur wat hulle hier deurbring, is ‘n manier om iets aan hul gemeenskap terug te gee. Baard meen niks is beter as om jou talente te deel en ander se dag op te kikker nie.






You must be logged in to post a comment.