Om die Anna-stigting in Raithby se 20ste bestaansjaar te vier gaan die stigter, Anna Brom, die eerste keer self die uitmergelende Absa Cape Epic aandurf.
Hoewel die stigting al 13 jaar lank ‘n amptelike liefdadigheidsvennoot van die Absa Cape Epic is, is dit die eerste keer dat Anna self dié 692 km lange bergfietsren, wat as een van die moeilikste en ongenaakbaarste ter wêreld beskou word, sal aanpak. Die 2026-uitgawe van die ren word van Sondag 15 tot Sondag 22 Maart aangebied. Deelnemers sal oor die agt dae die skoftered vanaf die Meerdendal-wynlandgoed in Durbanville aanpak, deur die Kaapse Wynland, Overberg na die eindstreep in Stellenbosch.
Anna durf die roete saam met haar man en die Anna-stigting se bedryfshoof, Pierre-Henri Olivier, aan. Sy beoog om die stigting se kernwaardes van veerkragtigheid en deursettingsvermoë aan die kinders wat deur die organisasie ondersteun word, te demonstreer, terwyl sy terselfdertyd groter bewustheid en hulpbronne vir landelike onderwys sal werf.
Anna het oor hul komende ren en voorbereidings met Eikestadnuus gepraat.
Die Anna-stigting is al 13 jaar ‘n amptelike liefdadigheidsvennoot van die Absa Cape Epic. Waarom die besluit om die Epic nou te ry?
“Ons het verlede jaar die Anna-stigting se 20ste bestaansjaar gevier. Dit is ‘n merkwaardige prestasie en ter viering hiervan wou ons iets betekenisvols doen – iets wat ‘n ewe merkwaardige poging verg en bewustheid vir die organisasie sal skep. Watter groter en meer epiese manier is daar om dit te doen as die Absa Cape Epic!”
Jy is nie werklik self ‘n fietsryer nie en het nog nie aan baie fietsrygeleenthede deelgeneem nie. Hoe en hoekom het jy besluit om die Epic aan te pak? “As jy jou kop op ‘n blok sit oor iets, sal dit altyd moontlik wees. Dít is iets wat ek aan die kinders met wie ons werk, wil wys – jy is altyd tot meer in staat as wat jy dink. Hoewel dit waar is dat ek baie beperkte ervaring het – ek het slegs die Wines2Whales in 2021 gedoen – pak ek hierdie uitdaging met volle oorgawe aan.”
Hoe het jou oefenprogram tot dusver gelyk?
“Ons het eers in November 2025 uitgevind dat ons ‘n inskrywing het, dus het dit my net drie en ‘n half maande gegee om te oefen. Ek het letterlik my fiets uit die skuur gaan haal, dit afgestof en begin ry die dag toe ons die nuus kry. Ek het op lang dae in die saal gefokus om te leer hoe om tegniese roetes te ry en het ook kragoefeninge in die gimnasium bygevoeg. My agtergrond in bergnaellope (trail running) help gewis op die roete, aangesien ek daaraan gewoond is om roetes teen bergtoppe op te kies; dit is net nie dieselfde ding wanneer jy ook nog die fiets teen die berg op moet kry nie!”
Het jy ‘n spesiale fiets nodig om die Epic te ry?
“Ja! Die fiets maak ‘n groot verskil. Ek ry nou danksy Giant Bicycles hul Liv Pique Advanced, wat spesifiek vir vroue ontwerp is. En wat ‘n bederf is dit nie. Die verskil in die gewig van die fiets is regtig beduidend wanneer dit by die opdraandes kom en die fiets rol oor klipperige terrein asof die paaie glad is! Pierre ry die Giant Anthem Advanced en as ‘n gesoute fietsryer waardeer hy die verskil wat hierdie fiets gemaak het.”
Jou ingesteldheid moet ‘n belangrike rol in ‘n uitmergelende geleentheid soos die Absa Cape Epic vervul. Hoe gaan jy dit bestuur?
“Ek dink ‘n mens se geestesgesteldheid is waarskynlik een van die belangrikste aspekte. Met die oefenproses gaan dit daaroor om te glo dat ek daartoe in staat is – om te weet ek kan moeilike dinge doen – en om nie toe te laat dat vrees my verlam om te probeer nie. Ek het voorheen enigiets tegnies vermy met die verskoning dat ek nie regtig kan bergfietsry nie, maar nou – omdat ek móét – het ek my houding hieroor verander. Skielik doen ek tegniese dinge wat ek nooit vantevore sou probeer het nie! En ja, ek het al ‘n paar keer geval, maar ek het opgestaan en weer probeer. Hierdie is goeie lewenslesse om die kinders te leer.”
Oefening verskil van die werklike ren. Hoe gaan jy die uitdagings tydens daardie brutale agt dae hanteer?
“Ek het nog nooit vantevore so iets gedoen nie, dus is ek nie seker of ek [dié vraag] kan beantwoord nie. Ek hoop dat ek kalm kan bly, op my spanmaat kan staatmaak vir ondersteuning (wat ook my man is; op wie beter kan ek dus leun?) en steeds die groter prentjie voor oë hou.”
Gaan jy dus die volle 692 km voltooi?
“Ja, ek gaan dit maak! Solank die weer nie te warm of te nat of te winderig is nie; solank ek nie val of ‘n maagkiem opdoen nie; solank my spanmaat my teen die opdraandes op stoot! Ja, ek is verbind tot al 692 km van hierdie roete en sal 150% gee om daardie eindstreep te haal!”
Die Anna-stigting is nou al langer as ‘n dekade by die Absa Cape Epic betrokke. Hoe sou jy die uitwerking van hierdie jare lange vennootskap beskryf?
“Ek wil graag my opregte dank teenoor die Absa Cape Epic uitspreek vir ‘n vennootskap wat oor ‘n tydperk van 13 jaar opgebou is. Elke jaar is dit ‘n hoogtepunt op ons kalender en die kinders sien daarna uit om die Cape Epic-rendorp te besoek en deel van die opwinding te wees. Dit is die enigste internasionale sportbyeenkoms waaraan hulle kan deelneem en dit is iets wat hulle elke jaar inspireer. Danksy die Absa Cape Epic sal 2026 vir hulle ‘n selfs groter en meer opwindende geleentheid bied om vir hul eie Anna-stigtingspan te skree!”
• Raak betrokke: Om Anna en Pierre te help om hul doelwit vir landelike onderwys te bereik, word ondersteuners genooi om ‘n kilometer teen R100 te borg. Vir nog inligting of om ‘n skenking te gee, besoek hul geldinsamelingsblad: Conquering the Epic: 692 km for Rural Education.




