Aktiewe burgerskap is Stellenbosch se burgemeester, Gesie van Deventer, se teenwig vir ongewenste ontwikkeling in die dorp.
Van Deventer was verlede Woensdag (24 April) se gasspreker by die Stellenbosch-belastingbetalers se jaarvergadering, wat by Rhenish Girls’ High School gehou is.
Die belastingbetalersgroep het oor die afgelope jaar meer as 20 briewe aan die Stellenbosch-munisipaliteit gerig as deel van kommentaar oor verskeie plaaslike sake, het die voorsitter, Simon Wilson, verduidelik. Wilson het gesê inwoners voel die dorp moet ontwikkel, maar nie ten koste van die dorp se identiteit nie.
Hoewel die vergadering nie in groot getalle bygewoon is nie, was belastingbetalers se passie sigbaar en het die gemoedere by tye hoog geloop.
Die groep het Van Deventer uitgevra oor onder meer die omstrede drieverdieping-parkeerontwikkeling, die Libertas-ontwikkeling en die gebrek aan bekostigbare behuising.
“Vyf jaar is ’n baie kort tyd, en wat jy wil doen, word nie altyd bewaarheid nie,” sê Van Deventer oor een termyn.
Sy vertel in baie gevalle het die huidige stadsraad projekte geërf waarmee die huidige munisipaliteit dalk nie saamstem nie. “Ek gebruik soveel van my mag vir versagting van baie projekte [van vorige stadsrade],” sê sy.
Enigiemand kan ’n aansoek aan die munisipaliteit rig vir enige ontwikkeling. Of dit goedgekeur word, is natuurlik ’n ander saak. Hoewel beplande ontwikkelings talle inwoners soms erg onthuts maak, is dit nie ’n gegewe dat dit deurgevoer gaan word nie, verduidelik sy.
Van Deventer het bygevoeg alle ontwikkelings moet ’n gepaardgaande openbaredeelnameproses hê.
“ ’n Gebrek aan teenkanting word dus gesien as ’n gebrek aan beswaar. Maar hier is altyd teenkanting, glo my, en dit is ’n goeie ding, want jy moet jou dorp beskerm.”
Openbare kommentaar is daarom uiters belangrik vir enige veranderings, aanpassings en ontwikkelings wat ’n munisipaliteit wil aanbring. Enige besware en insae van die gemeenskap vorm deel van die burgemeester en raad se goedkeuringsproses.
In gevalle waar die munisipaliteit ’n ontwikkeling afkeur, kan ontwikkelaars hulle na die howe wend. “In een geval het ’n ontwikkelaar prontuit gesê hulle weet ek gaan die ontwikkeling afkeur, en daar is reeds geld in die begroting ingewerk om hof toe te gaan.”
Van Deventer sê egter dié geval was ’n uitsondering en in haar termyn was daar slegs drie sulke gevalle. Die burgemeester het inwoners dus aangeraai om hul stem te laat hoor.
In antwoord hierop het belastingbetalers die munisipaliteit gemaan om beter en meer doeltreffend te kommunikeer. Hulle meen ook inwoners se insae moenie onderskat word nie, want, soos een fietsryer genoem het – gebruik hy nie die fietsrypaadjie wat die munisipaliteit laat bou het nie – en as hulle dalk plaaslikes se insae gekry het, was dit gewis ’n ander saak, het hy gesê.
Van Deventer sê hoewel sy weet sy het tydens die vergadering meestal aan “die bekeerdes gepreek”, hoop sy meer inwoners sal aktiewe burgers word.




