Makgothi Thobakgale, die nasionale kommissaris van die Departement van Korrektiewe Dienste. Foto: Departement van Korrektiewe Dienste/ Facebook

Die Stellenbosch- en Drakenstein-­gevangenisse is ‘n groot bron van kommer nadat 65 tugsake en groot ‘n aantal verbode items in die 2025-’26-boekjaar by dié twee gevangenisse aangemeld is.

Die Parlement se portefeuljekomitee oor die Departement Korrektiewe Dienste het hierdie syfer tydens ‘n sitting op Dinsdag 5 Mei, wat op die perseel van die Drakenstein-gevangenis plaasgevind het, bekendgemaak.

Die komitee het ook bekendgemaak dat dié bestuursgebied die grootste bydraer tot tugsake binne die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) is.

Dr Pieter Groenewald
Dr Pieter Groenewald, die minister of Korrektiewe Dienste. Foto: Jana Scheepers

Tugsake kwel

Hierdie sake vorm die helfte van die 130 sake wat oor die land heen aangemeld is. Die Drakenstein-bestuursgebied bestaan uit twee gevangenisse, insluitend Drakenstein, geleë langs die R301 asook Stellenbosch op die hoek van Muller- en Ryneveldstraat.

Die voorsitter van die komitee, Kgomotso Ramolobeng, het gesê die syfer is uiters kommerwekkend en kan dui op tekortkominge in bestuur.

“Dit is ‘n beduidende aantal tugsake. Die syfer is besonder hoog en kan moontlik dui op bestuursmislukkings of ‘n gebrek aan doeltreffende stelsels. [Die DKD] het die nasionale kommissaris reeds vroeër versoek om spesifiek op die Drakenstein-bestuursgebied te fokus, en hierdie bevindings bevestig waarom,” het sy gesê.

Die DKD se nasionale kommissaris is Makgothi Thobakgale, wat in 2021 aangestel is.

Tydens die oorsigbesoek op dieselfde dag as die sitting het die komitee onder meer die Drakenstein-gevangenis se kombuis, bakkery, skool, mediese eenheid, werkswinkels en gevangenisselle besoek.

Hier het hulle die bakkery geloof vir die produksie van sowat 1 500 brode per dag, wat ook aan ander korrektiewe sentrums voorsien word.

Ramolobeng het gesê dié selfonderhoudende projek dra by tot kostebesparings vir die departement, maar hy het gewaarsku verskeie stukke toerus­ting moet dringend herstel word.

“Twee van die drie mengers werk nie meer nie en een oond is ook buite werking. In die kombuis kan vier van die 10 potte nie gebruik word nie, en sommige van die masjinerie in die werkswinkels is ook stukkend.

“Dit plaas ekstra druk op die oorblywende toerusting en verhoog die risiko van verdere probleme. Hierdie kwessies verg dringende aandag,” het sy beklemtoon.

Oorbevolking en verbode items

Die komitee het verder sy kommer oor die hoeveelheid verbode items waarop gedurende die vorige boekjaar in die bestuursgebied beslag gelê is, uitgespreek. Dit sluit 634 selfone en 595 Mandrax-tablette in.

Nóg ‘n probleem is die praktyk waar middag- en aandetes gelyktydig aan gevangenes bedien word – iets wat volgens die komitee nie volgens die DKD se standaardbedryfsprosedures bestuur word nie.

Oorbevolking is en bly ‘n groot uitdaging. Die geriewe binne die Drakenstein-bestuursgebied het net genoeg bedruimte vir 1 361 gevangenes, maar huisves tans 1 851 gevangenes, insluitend 227 gevangenes met geestesversteurings wat van geestesgesondheidsorg gebruik maak.

Ramolobeng het daarop gewys oorbevolking dra dikwels by tot veiligheids­voorvalle binne korrektiewe sentrums, soos die dood van ‘n gevangene in die Drakenstein-gevagenis in Maart vanjaar.

Volgens ‘n betroubare bron is ‘n gevangene glo ná ‘n beweerde aanval op ‘n korrektiewe beampte deur bewaarders aangerand en noodlottig beseer. Volgens dié bron het die gevangene na bewering ‘n bewaarder met ‘n skerp voorwerp in die gesig gesteek voordat die gevangene deur die bewaarders aangeval is.

Die komitee sê die vroeë aanduidings dui daarop dat dié voorval moontlik bendeverwant was, maar die ondersoek is nog nie afgehandel nie.

Dit is egter nie die eerste gewelddadige voorval in dié afdeling nie.

In Februarie 2023 is vier bewaarders glo deur vyf gevangenes met selfgemaakte skerp voorwerpe aangeval kort nadat hul selle oopgesluit is.

Ramolobeng het gesê die komitee kon nie tydens die besoek alle dele van die fasiliteit inspekteer nie en sal terugkeer vir ‘n meer omvattende ondersoek, asook om opvolg te doen oor vroeër aanbevelings aan die departement.

Klagtes van bewaarders

Paarl Post, Eikestadnuus se susterskoerant, het oor die jare verskeie kere oor beweerde wanadministrasie by die Drakenstein-gevangenis verslag gedoen. ‘n Groep bewaarders het in Januarie 2024 ‘n brief aan die destydse minister van korrektiewe dienste, Ronald Lamola, gestuur, waarin ernstige aantygings teen die destydse hoof van die Drakenstein-gevangenis, Ntomboxolo Kungune, geopper is.

Die bewaarders het Kungune onder meer van magsmisbruik, wanadministrasie en vrugtelose en verkwistende besteding beskuldig.

Die klagtes het gewissel van administratiewe kwessies tot probleme rakende personeelbehuising. Volgens die brief sou Kungune glo be­voegde personeel wat van haar verskil, uit hul poste verwyder en met junior amptenare, wat haar ondersteun, vervang. Sy is ook daarvan beskuldig dat sy ‘n buitengewone groot aantal personeellede geskors het.

Nog aantygings het gehandel oor die toekenning van personeelbehuising binne die gevangenis. Personeel het beweer Kungune het glo die behuisingskomitee ontbind en self huise aan amptenare toegeken sonder om die voorskrifte te volg.

Kommer heers ook oor die toestand van die gevangenis se abattoir, wat vleis aan korrektiewe fasiliteite oor die land heen voorsien. Hulle het aangevoer ervare personeel is glo met onopgeleide werkers vervang, wat tot produksievertragings en swak doeltref­fendheid gelei het.

Hulle het beweer hoenders en varke word langer as die normale slagouderdom aangehou, wat voerkoste verhoog en produksiekoste opstoot.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article