Die eindronde van die Hennie Joubert-klavierkompetisie, vir deelnemers tussen die ouderdom van 10 en 19 jaar, is Saterdag 28 Maart in die Endler-saal gehou, met Hermanus Schmidt, ‘n leerder aan Paul Roos Gimnasium, wat aan die einde as die wenner gekroon is.
Die vyf finaliste het elk ‘n beweging uit ‘n klavierkonsert saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes uitgevoer, met Jacobus de Jager op die podium.
Dié uitvoering was die hoogtepunt van ‘n week-lange leerskool wat deur die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium fasiliteer is en aan deelnemers van die kompetisie die unieke geleentheid gebied het om na afloop van die tweede en derde rondes (Maandag 23 en Dinsdag 24 Maart) verder deel te neem.
LEES OOK: Paul Roos piano prodigy wins gold at National Youth Music Competition

‘n Groot groep van die 12 gekeurde mededingers het voortgegaan met die klaviersimposium en die geleentheid geniet om meestersklasse te ontvang, lesings by te woon, in etensuurkonserte op te tree en na uitvoerings deur uitgelese pianiste soos Leo Gevisser, Emanuil Ivanov en Ludmil Angelov te luister.
Die klavierkompetisie se hoofborge was die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, die Rupert Musiekstigting, die John Roos Trust en Cape Piano. Dit is ‘n opwindende nuwe projek wat ten doel stel om klassieke musiek vir die breër publiek toeganklik te maak deur middel van opvoedingsgeleenthede en inspirasionele ervarings.
Al die pryswenners
Die kompetisie is in 1984 vir die eerste keer as die Dietman-klavierkompetisie aangebied en vier vanjaar 40 jaar nadat dit ter nagedagtenis aan Hennie Joubert se nalatenskap hernoem is.
Deelnemers het die geleentheid gekry om voor ‘n beoordelaarspaneel van kenners te speel, insluitend Ivanov, Francois du Toit, Megan-Geoffrey Prins, Andrew Warburton, Bennie van Eeden en Pieter Grobler (voorsitter van die paneel en organiseerder van die kompetisie).
Schmidt, ‘n matriekleerder, het die Hennie Joubert-trofee ontvang, asook ‘n goue medalje en kontantprys van R25 000. Ander pryse wat Schmidt gewen het, was vir die beste uitvoering van ‘n Virtuoso Etude (R2 000 kontant); die beste uitvoering in die derde ronde (Allmusic-koopbewys); en Die John Roos-prys vir die beste uitvoerding van ‘n concerto (R5 000).
Die John Roos-silwermedalje en ‘n kontantprys van R15 000 is aan Dylan Price toegeken, terwyl Aran Sing die bronsmedalje en ‘n kontantprys van R10 000 ontvang het.
Die vierde plek is aan Singran Emilie Yang toegeken en die vyfde prys aan Eléna Monvoisin.
Spesiale pryse is aan Dylan Price (beste uitvoering van ‘n Bach-prelude en -fuga), Singran Emilie Yang (Joan de Villiers-prys vir die beste uitvoering van ‘n klassieke sonate), Weien Amy Luo (beste uitvoering van ‘n Suid-Afrikaanse komposisie) en Damian Philander (André Serfontein-prys vir die mees belowende deelnemer wat nie na die finale ronde deurgedring het nie) toegeken.






You must be logged in to post a comment.