KKNK-2026-Zip-Zap-Circus-MOYA-©-Joan-Ward
Die Zip-Zap-sirkus maak vanjaar sy debuut by die 30ste KKNK. Foto: Joan Ward

Bekroonde teaterproduksies, kunstenaars en regisseurs is volop op die program vir die 30ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK)wat van Saterdag 28 Maart tot Saterdag 4 April in Oudtshoorn aangebied word.

Onder die aanbod van bekroondes wat ‘n draai in die Klein Karoo maak tel dramas, komedie, musiek, dans- én kinderteater.

Feesgangers kan uitsien om onder meer die bekroonde produkies Ek is nie Danie (Albert Pretorius en Schalk Joubert), Dana Snyman se Seun (Wilhelm van der Walt), Andrew Buckland se The Ugly Noo Noo, Police Cops: The Original (Zachary Hunt, Nathan Parkinson en Tom Roe), en Reünie (Frank Opperman) op die verhoog te sien. Chris Vorster se Gebou soos Steffi Graf en Alfred Adriaan se skertsvertoning Positive Strokes sal ook by die fees te sien wees.

Ek is nie Danie met Albert Pretorius (regs) en Schalk Joubert. Foto: Pierre Rommelaere
Onder die talle reeds bekroonde produksies op die verhoog by die 30ste KKNK in Oudtshoorn is Ek is nie Danie met Albert Pretorius (regs) en Schalk Joubert. Foto: Pierre Rommelaere

Oudtshoorn se eie Karoo Kaarte-span is ook terug met ‘n splinternuwe drama, Spoel, wat lewe kry uit dié KKNK-projek se navorsing.

Vanjaar maak die Zip Zap Circus ook sy KKNK-buiging met MOYA, terwyl Kafka’s Ape, ‘n internasionaal bekroonde eenmanstuk met Tony Bonani Miyambo, ook gehore sal betower.

Kafa's Ape, met Tony Bonani Miyambo.  Foto: Zivanai Matangi
Die internasionaal bekroonde eenmanstuk, Kafa’s Ape, met Tony Bonani Miyambo is vanjaar op die planke by die KKNK. Foto: Zivanai Matangi

Die KKNK-musiekprogram sluit ook bekroondes in met Stephanie Baartman en die pianis Janine Neethling op die verhoog in Hoort, The Scullery Quintet se Stir-Fried Sonatas en Winand Grundling in A Victor Borge Tribute.

Bekroonde kinderteater is ook ingesluit, met die Laerskool Durbanville se Potloodsakkie: Agter die zip, wat een van ses laerskoolproduksies was wat deelgeneem het aan die ATKV-Tjokkertoneel-eindronde by die Baxter-teater in 2025.

• Die volledige program en nog inligting is beskikbaar by kknk.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article