Die tweejaarlikse Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium word van Woensdag 25 tot Sondag 29 Maart by die Universiteit Stellenbosch Konservatorium aangebied.
Simposiumgehore kon deur die jare heen plaaslike debuut-uitvoerings deur pianiste soos Antonio Pompa-Baldi en Emanuil Ivanov geniet. Dié hoogtepunt van die plaaslike musiekkalender vier vanjaar sy 10de aanbieding.
Benewens uitstekende solo-klavier aandkonserte sal gehore die gewilde Klavier-extravaganza van 10 klaviere op 29 Maart kan geniet.
Die simposium bied ‘n geleentheid vir plaaslike pianiste en onderwysers om hul netwerke en vaardighede uit te brei met ongeewenaarde toegang tot openbare meestersklasse, lesse en lesings van plaaslike en internasionale kunstenaars. Die publiek kan ook toegang tot die volledige simposium-aanbieding kry deur ‘n dagpas of konsertkaartjies te koop.

Die simposium bied ook die Hennie Joubert-klavierkompetisie aan, in samewerking met die Kaapse Filharmoniese orkes. Dit brei die simposium-ervaring uit om aan gevorderde jong pianiste die geleentheid te gee om hul vaardigheid te ontwikkel in ‘n wêreldklas kompetisie.
Die finale ronde word Saterdag 28 Maart in die Endler-saal gehou met die gewilde opkomende dirigent Jacobus de Jager op die podium. Die eerste twee rondes op 23 en 24 Maart in die Endler is gratis vir die publiek.
Die simposium brei uit met ‘n junior afdeling wat ook vir pianiste rondom graad 4 standaard of hoër die kans gee om onderrig te ontvang. Alle pianiste kan ook kies om lesse in solo- of ensemble-genres te ontvang.
‘n Groot nuwe verwikkeling is die insluiting van ‘n jazz-afdeling, wat gehoor gee aan die groeiende neiging van pianiste om in meer as een genre vaardig te wees.
Die Bulgaarse pianis, Ludmil Angelov, sal ook tydens sy eerste Suid-
Afrikaanse besoek sy buiging by die simposium maak. Met optredes in alle groot internasionale konsertsale op sy kerfstok het hy ‘n reputasie rondom die werke van Chopin ontwikkel ná verskeie uitvoerings van dié komponis se volledige werke.
‘n Gehoorgunsteling, die pianis Emanuil Ivanov (ook van Bulgarye), sal vir sy tweede simposium terugkeer, terwyl die Estlandse pianis Kärt Ruubel ook sy buiging maak.

Die openingsfunksie (25 Maart) begin met die openbare bekendstelling van ‘n nuwe kunswerk deur die bekende kunstenaar, Gavin Rain.
‘n Gratis openbare uitvoering van Peter Louis van Dijk se werk “The Selfish Giant” (vir koor, soliste, verteller en orkes) sal voor die Konservatorium-gebou plaasvind. Daarna sal die simposiumfeestelikhede in die Endler voortgaan met ‘n klavier-uitvoering deur die opwindende jong Suid-Afrikaanse pianis, Leo Gevisser.
Deelnemers het tot 28 Februarie tyd gehad om vir die Junior-afdeling aansoek te doen, en tot 2 Maart om vir die klassieke en jazz afdelings in te skryf.
• Dagpasse vir die simposium is aanlyn by www.stellenboschsymposium.com te koop, terwyl konsertkaartjies aanlyn deur Webtickets beskikbaar is.






You must be logged in to post a comment.