Die treurbottelborsel (Melaleuca viminalis), 'n indringerplant, groei langs die Eersterivier.
Data toon die treurbottelborsel (Melaleuca viminalis), ‘n indringerplant, het alreeds ‘n aansienlike gedeelte van die rivier ingeneem en vinnig versprei.

Die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Indringerbiologie pak ‘n omvattende projek aan om die stand van inheemse en plantindringers oor en langs die volle lengte van die Eersterivier vas te stel, sodat hulle dit in die toekoms as norm vir die toedrag van sake kan gebruik.

‘n Beroep word op die publiek gedoen om by te dra tot die rekordhouding of aantekening van uitheemse plante binne-in die rivier en ‘n strook van 20 m aan albei kante, al langs die rivier.

‘n Projek getiteld “Eerste River plant communities“, is op die burgerlike wetenskapstoepassing iNaturalist geskep en het reeds meer as 8 700 bydraes oor 660 plantspesies wat gesien is. Hierdie inligting sal as basis van die inventaris dien.

Die Eersterivier ontspring in die Jonkershoekberge by ‘n hoogte van 530 m.

Van Jonkershoek vloei die rivier deur Stellenbosch voordat dit suid draai en uiteindelik by Macassar in die Atlantiese Oseaan in Valsbaai uitmond.

Oor sy 42 km lange reis, vloei dit deur verskillende landskappe – van landbougebiede tot kommersiële bosbou, gemeenskapsweiding, nywerhede en afvalwatersuiweringsaanlegte tot verstedelikte woongebiede.

Volgens prof. Dave Richardson van die US departement plant- en dierkunde, is die eerste norm-opname ongeveer twee dekades gelede gedoen: “Ons moet verstaan hoe plantgemeenskappe oor tyd verander het, of daar nuwe indringers is en die mate waarin bestuursintervensies suksesvol was,” verduidelik hy.

Sy eie waarnemings wat byvoorbeeld op die iNaturalist-toepassing oor die afgelope paar jaar vasgelê is, toon dat die treurbottelborsel (Melaleuca viminalis), ‘n indringerplant, alreeds ‘n aansienlike gedeelte van die rivier ingeneem het en vinnig versprei.

“Die Eersterivier is ‘n klassieke voorbeeld van rivierstelsels in Mediterreense klimaatstreke wat dikwels relatief ongerepte boonste opvangsgebiede het, maar grootliks verander is deur menslike aktiwiteite in hul laer lope,” verduidelik Richardson.

Belangstellendes word genooi om te help om omvattende data oor die verspreiding van inheemse en uitheemse plante oor die hele lengte van die rivier te bekom. Aangesien ‘n groot gedeelte van die rekords bestaan uit die rivieroewerplantegroei in stedelike Stellenbosch, benodig die span

veral hulp met die insameling van data van ander dele van die rivier, beide stroomop en stroomaf van Stellenbosch.

• Belangstellendes wat betrokke wil raak, word versoek om Raphaelle Moors per e-pos by raphaellemoors@gmail.com te kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article