Die twee vermeende ontvoerders van ‘n Universiteit Stellenbosch (US)- student is R89 000 armer danksy die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se batebeslagleggingseenheid.
Die eenheid poog om vermeende misdadigers te “slaan waar dit die meeste seermaak”, het adv. Nicolette Bell, Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, vandeesweek verduidelik.
Die Zimbabwiërs Truth Mambemba en Takudzwa Chauruka word vervolg vir die vermeende ontvoering van ‘n vrou, toe ‘n 20-jarige student aan die US, uit die dorp in Oktober 2024.
Benewens die strafregtelike saak wat tans in die Stellenbosch-landdroshof aan die gang is, is die twee se beursies geruk deur die batebeslagleggingseenheid nadat ‘n bevel bekom is om op die vermeende losprys wat die twee van die Matie se ouers ontvang het, beslag te lê.
Die bewaringsbevel is op 15 September 2025 aan die beslagleggingseenheid uitgereik, met die aansoek om die vermeende losprysgeld aan die staat verbeurd te verklaar, en is op verlede Donderdag (12 Februarie) toegestaan.
LEES OOK: Ontvoerde kry al sy geld terug
Eikestadnuus het in Oktober 2024 berig van die voorval wat deel was van beriggewing oor verskeie plaaslike voorvalle waartydens individue ontvoer en ‘n losprys geëis is.
In die geval van die vrouestudent het sy op 2 Oktober 2024 met vriende in ‘n plaaslike klub gekuier totdat sy besluit het om om 02:00 huiswaarts, na haar koshuis, terug te keer.
Op pad na haar motor is sy glo deur die verdagtes in ‘n onbekende voertuig gedwing en die mans, met een wat bestuur het en die ander op die agterste sitplek, het met haar weggery.
Volgens die NVG is die student onder meer met ‘n vuurwapen gedreig en ge- dwing om ‘n video-oproep aan haar ouers te stuur waarin sy vir geld vra voor die verdagtes haar sou loslaat.
Nadat haar ma nie op die video gereageer het nie, het die student haar pa geskakel. Hy het die oproep beantwoord en moes hoor sy dogter is ontvoer.
Aanvanklik was die verdagtes ontevrede met haar ouers se antwoord en uiteindelik is R200 000 glo in die Matie se bankrekening inbetaal. Die ontvoerders het die geld by verskeie OTM’s getrek.
Die mans het na afloop van die onttrekking vir die vrou ‘n e-taxi bespreek en haar R200 gegee om daarvoor te betaal. Die student se ontvoering is later die oggend by die Stellenbosch-polisie aangemeld en die ondersoekbeampte, kol. Abraham Jooste, is deur die Matie se ouers ingelig dat ‘n onttrekking by ‘n OTM by Sasol Stanford gemaak is. Danksy die motor se registrasienommer het polisie Mambemba en Chauruka dieselfde dag, omstreeks 16:30, op die N2-hoofweg in Groot-Brakrivier se rigting gevang.
LEES OOK: Kidnappings and extortion are op the rise in the Boland
Die verdagtes het onder meer die student se selfoon en bankkaart asook R89 000 in die voertuig gehad.
Die twee staan onder meer tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, afpersing en die onwettige verblyf in Suid-Afrika.
Na hul in hegtenisneming en in die daaropvolgende hofverskyning het beide se borgtogaansoek misluk.
Mambemba en Chauruka sal weer op Dinsdag 3 Maart in die hof verskyn.





