Veertig jaar gelede het ‘n groep manne die pad in Van Rheedestraat in Stellenbosch vir hul eerste tydtoets gevat en nou, vier dekades later, pak atlete steeds elke Dinsdag hierdie roete aan.
Klaus Zollner, destyds die klubkaptein van die Helderberg Harriers-atletiekklub, onthou dat die idee vir die tydtoets dié van wyle Justin Swart was. Zollner sê daar was ‘n behoefte vir die Eikestad om sy eie tydtoets te hê en so het ses hardlopers en hul tydhouer op die eerste Woensdag van Janaurie 1986 op die hoek van Van Rheede- en Rokewoodstraat weggespring.
“Daar is lank gesoek vir ‘n geskikte roete in Stellenbosch. Daar is verskillende kriteria neergelê waaraan die tydtoets se roete moes voldoen. Dit moes byvoorbeeld ‘n baie plat roete vir vinnige tye wees, die minimum verkeer hê en goeie beligting deur straatligte in die winter. Ons het verskeie opsies oorweeg, soos Plankenbrug of Simonswyk, maar op die ou einde maar besluit op ‘n roete deur Die Boord,” vertel Zollner.

Hy verduidelik om die roete op te stel was ook nie ‘n eenvoudige taak nie.
“Jat du Toit, destyds ‘n lektor by die departement ingeneurswese by die Universiteit Stellenbosch, het die moeilike taak gehad om vir ons ‘n roete te ont- werp. Onthou, in daai jare het daar nie so iets bestaan soos die internet of Google Maps nie! Jat moes nog kaarte met die hand teken, en die korrekte afstande daarop bepaal – glad nie so ‘n maklike onderneming nie. Sy voorstel was ‘n 2 km- en ‘n 3 km roete, waarvan enige veelvoud dan enige gekose afstand vir die deelnemers kon gee. Die roetes is oor die algemeen uiters gewild gevind, en tot vandag toe is daar slegs minimale aanpas- sings gedoen.”
Oor die jare het die buurt verskeie veranderings ondergaan. Deesdae is daar die nabye Mediclinic en Spar-sentrum en Zollner verduidelik die deel Noord van Saffraanlaan het destyds net twee huise gehad.

“Rokewoodlaan onder teen die rivier het nog nie straatligte gehad nie, wat dit effe tricky gemaak het om op ‘n koue en donker wintersaand daar te hardloop.”
Vandag keer ‘n handjie vol atlete week na week terug, met vele besoekers wat ook saam draf.
Twee sulke besoekers was oud-Maties van Suid-Korea wat verlede jaar tydens ‘n besoek aan hul alma mater weer die tydstoets gaan draf het. Vandeesmaand was daar ook twee Switserse vroue wat saamgehardloop het. Zollner sê die informele samekoms is juis die lekker van die geleentheid.
Wat egter soos klokslag verloop, is die tydhou van elke atleet. Vir die afgelope 24 jaar is dit die oud-onderwyser Roy Carstens van Cloetesville wat almal se tye opneem. Gevra oor sy jare lange betrokkenheid by die tydtoets, skerts Carstens dat hy nog ver het om te gaan indien hy Zollner se vier dekades van diens wil bereik. Hy sê een van die beste aspekte van die tyd- toets is dat dit slegs ‘n handjie vol atlete is, oud en jonk, en van enige fiksheidvlak, wat weekliks kom draf.
“Ons wil eintlik nie meer as 50 atlete per aand hê nie, want dan raak dit moeiliker om te bestuur,” verduidelik hy.
Hoewel die tydtoets deur die lede van Helderberg Harriers gestig is, is Zollner vandag die enigste oorspronklike lid wat nog betrokke is. Hy sê die tydtoets is ‘n hartsaak en buiten tydens die Covid-pandemie, het die weeklikse drafsessie voortgegaan.
“Deur beurtkrag, stormweer en al het hier selfs net twee mense opgedaag,” sê hy.
Gevra wat sy hoop vir die tyd- toets is, sê hy: “Om so voort te gaan met wat ons die afgelope 40 jaar al doen. ‘n Mens kan mos nie eenvoudig dit net so staan en los nie. Vir my, as organiseerder, is dit werklik ‘n plesier om iets te probeer terugploeg in atletiek – iets, wat ek as jong man die voorreg gehad het om te gebruik en te geniet.”
• Enigeen wat wil kom saamdraf, kan Dinsdae hul tekkies aantrek en om 18:00 in Van Rheedestraat in Die Boord wegtrek.








You must be logged in to post a comment.