Cheng² Duo is eersdaags in die Eikestad. Foto: Andrej Grilc

Die Cheng² Duo open Vrydag 20 Februarie die 2026 Endler-konsertreeks met ‘n tjello-en-klavieruitvoering.

Die JUNO-genomineerde sibbe Bryan Cheng (tjello) en Silvie Cheng (klavier) is internasionaal bekend vir hul energieke spel en musikale sinergie.

Hul program neem die gehoor op ‘n reis van Spaanse kleur en Engelse volks-wysies tot Duitse romantiek en Franse elegansie, met werke deur Joaquín Nin, Vaughan Williams, Schumann, Nadia Boulanger en Poulenc – ‘n treffende kombinasie van tydlose virtuositeit en 20ste-eeuse sprankel.

Die Chengs, van Kanada, het ‘n internasionale profiel opgebou met optredes reg oor Noord-Amerika, Europa, Asië en Suid-Afrika.

Die Cheng² Duo is eersdaags in die Eikestad. Foto: Andrej Grilc

Bryan is die enigste pryswenner van beide die Koningin Elizabeth- en Genève Internasionale musiekkompetisies die afgelope 40 jaar.

Die konsertreeks, aangebied in die Endler- en Fismer-saal by die Universiteit Stellenbosch se konservatorium, bied ‘n verskeidenheid van kamermusiek, jazz en orkes-uitvoerings.

In Maart huisves die konservatorium ook die Stellenbosch International Piano Symposium, wat sedert 2006 tweejaarliks deur die universiteit se musiekdepartement se klavierafdeling aangebied word.

Die Cheng² Duo-konsert begin om 19:00.

• Kaartjies kan aanlyn deur Webtickets bespreek word teen R170 en R130 (pensioentrekkers), R50 vir buite-studente en skoliere. Maties kry gratis toegang, maar moet vooraf bespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article