Wat begin het as ‘n eksperiment om grondboontjies in ‘n koffiemeul fyn te maal, het in ‘n stigting ontaard wat daagliks byna 17 000 kinders landwyd voed.
In Klapmuts en Khayamandi alleen kry 1 700 kinders daagliks hul eerste maaltyd danksy die StartWell-stigting. Die stigting is in 2018 deur die Stellenbosser Org van der Wath begin, nadat hy besluit het om ‘n onderneming te koop wat reeds pap aan voedingskemas verskaf het.
Nadat hy die hulp van kundiges ingespan het, het Van der Wath gevind die pap het nie juis veel voedingswaarde vir groeiende liggaampies en breintjies nie, en die groot werk is begin om die produk meer voedingryk te maak vir die kinders wat dit die nodigste het.
“Sukses is eintlik wanneer ons ons deur moet toemaak,” verduidelik Van der Wath. “Indien ons verdwerging in ons land van 30% (onder kinders) na onder 10% kan verminder, dan moet ons nie meer bestaan nie.”
Dit is omdat StartWell ‘n organisasie sonder winsbejag is wat elke emmer pap aan skole en vroeëkinderontwikkelingsentrums skenk danksy die organisasie se donateurs. Om die verskaffing te help, kan lede van die publiek hul eie StartWell-pap aanskaf.

Die StartWell-span het onlangs sy eerste Wes-Kaapse afsetpunt en winkel in Plankenbrug geopen.
Volgens Michelle Myburgh van die stigting is dit nie net die kleinspan wat die pap geniet nie, maar vele fietsryers en studente gebruik ook die pap vir gladde jantjies wanneer hulle oefen. Met verskeie geure om van te kies en keur, is daar iets vir almal.
In ‘n studie onder leiding van die Universiteit van Kaapstad is bevind 17,5% van kinders onder vyf jaar in die Wes-Kaap word deur wanvoeding in die gesig gestaar. Dit beteken die kinders kry nie genoegsame voedingswaarde uit die kos wat hulle wel eet nie.
Dit is ‘n statistiek wat onderwysers soos Phathiswas Tsoni, voorsitter van die Khayamandi-vroeëkindersontwikkelingsforum, eerstehands ervaar. Tsoni se sentrum was een van die eerstes wat StartWell-papskenkings ontvang het.
Sy sê die verskil in die kinders wat soggens ‘n bakkie pap eet, is ooglopend. “StartWell vorm nou deel van ons werk om te verseker die kinders van die Sibongumusa-sentrum word holisties grootgemaak. Die kinders se gesondheid en konsentrasie vir leer is soveel beter,” sê sy.
Tsoni het die organisasie bedank vir sy lang ondersteuning en werk “om die gemeenskap ‘n beter plek te maak”.

Deel van die stigting te werk, wat deur Lisa Venter behargtig word, is ook om ouers te ondersteun en oor voeding op te voed.
Venter werk saam met die 600 vroeëkinderontwikkelingsentrums landwyd wat StartWell-pap bied, om die ouers van elke skool te help.
Benewens die donateurs wat die skenkings moontlik maak, hou die StartWell-stigting ook jaarliks die Groot Swem waartydens die publiek swemmers kan borg wanneer hulle die 7,5 km-swem tussen Grootbaai en Robbeneiland aanpak.
Vanjaar is daar ook fietsryers wat namens die stigting die Kaapstad-fietstoer sal aandurf.






You must be logged in to post a comment.