Drie mense – twee kinders en hul ma – is die afgelope Dinsdagaand (3 Februarie) in ‘n gasontploffing in ‘n spazawinkel in Franschhoek beseer.
Volgens Kurt Maske, ‘n ER24-paramedikus, het ‘n gasbottel vermoedelik in die winkel op die hoek van Upper en Lower Lea Smithstraat in Groendal ontplof. Die ontploffing het tot ‘n brand gelei wat geblus moes word.
Franschhoek First Responders, die Franschhoek-polisie en die plaaslike brandweer het hulle na die toneel gehaas.
Maske sê die winkel het slegs gedeeltelike brandskade opgedoen, maar dat die twee min- derjariges en hul ma ernstige brandwonde opgedoen het.
Die ma het brandwonde oor haar hele liggaam opgedoen, terwyl die sesjarige brandwonde aan sy arms, bene, bors, gesig en rug gehad het. Die ander minderjarige, ‘n 16-jarige seun, het brandwonde aan sy bene opgedoen.
Die vrou en haar twee seuns is na ‘n hospitaal vervoer.
Met Maske se aankoms op die toneel was die ma glo in ‘n toestand van skok.
Eikestadnuus het die Franschhoek-polisie vir kommentaar genader, maar geen terugvoering is ontvang nie.





