Alle rugbystewels loop hierdie naweek na die Dwarsrivier vir die Pniël Villagers-rugbyklub se eerste aanbieding van die Rhodes Dwarsriviervallei-7’s-toernooi.
Die toernooi is ‘n eerste vir die streek met spanne van onder meer Kylemore, Lanquedoc, Simondium, La Motte, Meerlust, Klapmuts, Stellenbosch, Fransch- hoek en Wemmershoek wat kragte op die Pniël-sportgronde sal meet.
Volgens die gasheerklub se bestuur bied die toernooi vir die plaaslike sportgemeenskap ‘n kans vir samehorigheid en gee dit erkenning aan staatmakers wat gehelp het om sport in die vallei te bevorder.

“Die vereering van oudspelers en -administrateurs, ongeag hul affiliasie in die apartheidsjare, is om hulle te bedank vir hul bydrae tot die ontwikkeling van rugby in die omgewing. Ons wil erkenning gee vir hul waardes, erfenis, tradisies en suksesse,” sê Winston Stubbs, die voorsitter van die rugbyklub.
Stubbs benadruk dat die inisiatief ten doel het om eenheid, trots en sport- ontwikkeling in die Dwarsriviervallei te bevorder.
Die aksie skop Vrydag (6 Februarie) om 18:00 af en duur tot 22:00. Saterdag (7 Februarie) begin die wedstryde om 12:00.
Benewens die sport op die veld sal daar ook verskeie toeskouer-kompetisies wees vir onder meer die beste gekleede ondersteuner en die toeskouer met die beste gees vir die tweedaagse geleent- heid. Die toernooi beloof om ‘n jaarlikse hoogtepunt op die plaaslike sportkalender te word.
- Skakel Lisa Myburgh by 062 293 2869 of Winston Stubbs by 071 567 1273 vir meer inligting.





You must be logged in to post a comment.