Die Franschhoek-landdroshof. Foto: Rasaad Adams
Die Franschhoek-landdroshof. Foto: Rasaad Adams

Die 55-jarige Franschhoekse man wat teregstaan op aanklagte wat met die besit en vervaardiging van kinderpornografie verband hou, se prokureur het Maandag (19 Januarie) buite die Franschhoek-landdroshof gesê die landdros was “te streng” deur nie borgtog aan sy kliënt toe te staan nie en dat prosesse reeds aan die gang is om teen die uitspraak te appelleer.

Uitspraak in die borgtogaansoek, wat reeds op 11 September 2025 begin het, is eers op 2 Desember verlede jaar gelewer.

Die man, ‘n voormalige opvoeder, is op 16 Augustus verlede jaar by sy woning in Franschhoek in hegtenis geneem in verband met video’s wat aanlyn versprei is en waarin hy glo seksueel met twee tienermeisies verkeer.

Een van die tienermeisies was in haar skooldrag.

LEES OOK: Pastoor vas vir kinderporno

Hy word sedertdien aangehou en staan tereg op drie aanklagte: die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie; die seksuele voorbereiding van ‘n minderjarige; en die besit van kinderpornografie.

Die polisie se eenheid teen reeks- en elektroniese misdade het ten tyde van sy inhegtenisneming op sy selfoon beslag gelê om die inhoud daarvan te ondersoek.

Die man se prokureur, Martin Green, het Maandag aan die hof gesê dat die polisie intussen ook op ander elektroniese toestelle by sy kliënt se woning beslag gelê het.

Die saak is aanvanklik in die Paarl-landdroshof aangehoor en die man het Maandag die eerste keer in die Franschhoekhof verskyn.

Die hof het Maandag gehoor dat die beskuldigde se dossier tans by die kantoor van die direkteur van openbare vervolging is.

Die saak is tot eerskomende Dinsdag (27 Januarie) uitgestel vir die direkteur van openbare vervolging om te beslis na watter hoërhof dit verwys moet word.

Green het buite die hof aan Eikestadnuus gesê sy kliënt word onregverdig benadeel.

“Dit is duidelik dat die staat nog lank nie klaar is met sy ondersoek nie. Ons ver-

staan dus nie hoe ‘n onvoltooide saak na die direkteur van openbare vervolging verwys is nie.

“Ons beplan om teen die borgtog-uitspraak te appelleer. Die hof was te streng in sy beslissing. Daar is geen rede hoekom hierdie man agter tralies gehou hoef te word nie.

“Soos ons verlede jaar aangedui het, is hy nie ‘n gevaar vir die gemeenskap nie,” het Green aangevoer.

Die saak sal waarskynlik na die Paarlse streekhof verwys word.

Dit is in dieselfde hof waar die beskuldigde in 2017 skuldig bevind is aan statutêre verkragting van ‘n 17-jarige meisie – ook van Franschhoek.

Hy is toe ‘n opgeskorte vonnis in die Paarl-streekhof opgelê.

Die betrokke 17-jarige meisie se ma het verlede jaar aan die koerant gesê haar dogter is vermoedelik reeds van 11-jarige ouderdom af deur die man seksueel voorberei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article