Brandbestryders is steeds besig om aktiewe brandlyne wat in die berge bo Franschhoek brand, te beheer.
Brande woed sedert die begin van die maand in die gebied. ‘n Rookwolk hang sedert Woensdag 7 Januarie oor Franschhoek nadat ‘n veldbrand in Wemmershoek, agter die Langrug- informele nedersetting, uitgebreek het.
Nou spook brandbestryders met nog ‘n brand wat die afgelope Saterdag (18 Januarie) ontstaan het.
Volgens Jo-Anne Otto, ‘n woordvoerder vir die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), het die brandbestrydingspanne Dinsdagnag ‘n uiters moeilike nag beleef, waartydens onder baie uitdagende omstandighede op aktiewe eiendomsbeskerming gefokus is.
“Laat die aand [Dinsdag 20 Januarie] het ‘n skielike opvlamming in die omgewing van die Three Streams-plaas voorgekom, aangevuur deur baie sterk wind wat by tye tussen 50 en 80 km/h gewaai het. Helikopters is ontplooi om bystand te verleen, maar moes weens die erge rukwind onttrek word,” het sy verduidelik.
Tydens sy besoek aan Franschhoek verlede Donderdag (15 Januarie) het Narend Singh, die adjunkminister van bosbou, visserye en die omgewing, brandbestryders geprys vir hul werk om die “ikoniese wynlande” te beskerm.

Teen Woensdagoggend het vuurlyne hoog op in ontoeganklike terrein bo die Bergrivierdam gebrand. ‘n Vierde vuurlyn het in die berggebied bo Franschhoek, tussen die Kaapse Wynland- en Overberg-distriksmunisipaliteite, gebrand.
Intussen is ‘n CapeNature-brandbestryder (42) Saterdagoggend (17 Januarie) suksesvol uit die Stettynskloof-berggebied tussen Franschhoek en Du Toitskloof deur lede van die Wilderness Search and Rescue (WSAR) gered.
Volgens ‘n verklaring van die WSAR het die brandbestryder Vrydagaand ‘n beenbesering tydens brandbestryding opgedoen. Sy was in ‘n afgeleë berggebied en weens die terrein en donkerte kon sy nie onmiddellik gehelp word nie.
Nadat sy en haar span op die berg moes oornag, het ‘n klein reddingspan Saterdagoggend met ‘n reddingshelikopter vertrek om die brandbestryder op te pik.
‘n Paramedikus het noodsaaklike behandeling op die toneel toegepas, waarna die beseerde brandbestryder per helikopter na ‘n nabygeleë landingsone vervoer is. Van daar is sy na ‘n hospitaal geneem.
Inwoners naby die brandgebied word gemaan om deure en vensters toe te hou vir die rook en om sport- en sosiale aktiwiteite in die geraakte gebiede te vermy, aangesien skielike veranderings in vuurgedrag gevaarlik kan wees.
“Die spanne het ook hul opregte dank en waardering uitgespreek vir die onbaatsugtige ondersteuning en skenkings uit die Franschhoek-gemeenskap. Hierdie ondersteuning maak ‘n tasbare verskil en dra grootliks by tot spanmoraal onder moeilike omstandighede,” het Otto gesê.






You must be logged in to post a comment.