Stellenbosch se plaaslike staats-hospitaal is ‘n “panado-hospitaal”.

Dit is hoe talle Stellenbossers die hospitaal beskryf waar die 10 maande oue Mileeck Newman op Vrydag 21 November gesterf het (“Herrie nadat seuntjie sterf”, Eikestadnuus, 27 November).

Die Newman-familie, van Jamestown, voer aan die hospitaal se nalatigheid het tot die baba se dood aanleiding gegee.

Sedert nuusberigte oor die 18-jarige Tammy Newman se ervaring by die plaaslike hospitaal en die seer van haar seuntjie se sterfte, het ander inwoners begin uitpak oor hul ervarings by die hospitaal.

Voormalige pasiënte wat na Eikestadnuus uitgereik het, het vertel van mediese personeel wat ure lank rondstaan en gesels sonder om na pasiënte om te sien.

KLAGTES VAN PASIËNTE

Ander ma’s het gekla oor hul kraam-ervarings. Een Stellenbosch-ma sê sy is op Woensdag 30 Julie na die Stellenbosch-hospitaal om aan haar seuntjie die lewe te skenk. Sy sê hoewel alles aanvanklik goed genoeg gelyk het om haar en baba huis toe te stuur, het dinge vinnig begin skeefloop.

“Die volgende dag het ons agtergekom hy is bleek en ons is terug na die hospitaal. By die hospitaal het die studente-dokters vir ‘n aar gesoek om bloed te trek, maar hulle het gesukkel en hy was pimpel en pers van hoe hulle gesoek het. Hy is toe opgeneem.

“Vrydag [die volgende dag] is ons gesê hy is sonder ‘n anus gebore en die melk was besig om sy magie vol te maak omdat hy nie kon ontlas nie. ‘n Verpleegster het verduidelik dat die studentdokter hom die verkeerde medikasie gegee het en die dokters moes probeer om die uitwerking daarvan om te keer.”

Die ma sê ‘n gaatjie moes in haar baba se kop geboor word om ‘n aar te vind en “hy het verskeie pype gehad wat uit hom gekom het”.

Hoewel die baba later die dag na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas is, was sy longe baie swak. “Sy longe was baie swak op die ventilator en hoewel hulle probeer het om hom op sy eie te laat asemhaal, was sy hartjie te swak. Hulle het hom toe van die masjien afgehaal … dit is die ergste om te sien hoe jou kind hulpeloos daar lê en jy kan niks vir hom doen nie,” vertel sy.

Nog ‘n leser wat sy ervaring gedeel het, sê nadat hy een Saterdag van 08:00 tot 14:00 gesit en wag het vir hulp, het hy besluit om uit te stap.

“Die Stellenbosch-hospitaal se personeel is verskriklik arrogant, onvriendelik, ongevoelig en soms baie onprofessioneel,” meen Gerrit Hendricks.

“Ek het net ná 08:00 daar aangekom en daar was nie baie mense nie en my leêr was reeds by die verpleegsters. Ek het geduldig gewag terwyl die personeel geskater het van die lag en uitgegaan en met KFC en McDonalds teruggekom het. Ek het net ná 14:00 besluit om te loop. Niemand het my geroep nie,” sê hy. Hendricks het “ten duurste” liewer ‘n private dokter gaan spreek. Sy kleinseun het glo ‘n soortgelyke ervaring gehad.

‘KLAGTES ERNSTIG OPGENEEM’

By navraag het die Wes-Kaapse departement van gesondheid gesê hulle beskou al die kommentare, voorstelle en klagtes van pasiënte in ‘n ernstige lig. Die plaaslike staatshospitaal, wat meer as 5 000 pasiënte dien, ontvang maandeliks egter slegs ‘n handjievol amptelike klagtes, wat die departement sê steeds baie kommerwekkend is.

Die bestuur raai pasiënte aan om liefs direk met die hospitaal se bestuur te gesels indien die diens nie na wense is nie.

Die departement voeg by direkte kommunikasie maak dit ook makliker vir hulle om terugvoer te bied en om uiteindelik probleme op te los.

“Ons wil ook die gemeenskap gerusstellend verseker dat duidelike stelsels bestaan om ons personeel te ondersteun en ook om hulle verantwoordelik te hou wanneer nodig. Elke bekommernis en klagte word ernstig opgeneem en ondersoek,” het Sandra Maritz, ‘n woordvoerder van die departement, gesê.Sy het bygevoeg die baba Newman-geval word spesifiek ondersoeken die departement is in kontak met die familie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article