Stellenbosse produsente en werkers in die landboubedryf het Donderdag 20 November op die Stellenbosse Landbougenootskap se jaarvergadering teruggekyk op die jaar wat was.
Benewens die terugblik het die organisasie ook ‘n ere-toekenning van Agri Wes-Kaap (AWK) ontvang om erkenning te gee aan landbouverenigings wat al langer as ‘n eeu bestaan.
Volgens Jannie Strydom, uitvoerende hoof van die AWK, blyk die plaaslike vereniging die eerste afstammeling van die Cape Agriculture Society, wat in 1832 gestig is, te wees.
Hy het verduidelik in meer as ‘n eeu het nie veel in die doelwitte van die vereniging verander nie. “Die vereniging is gevorm met die primêre doel om landbou te bevorder, landboumetodes te verbeter en die sektor ten toon te stel,” het hy verduidelik.
LEES OOK: Jonges raap landboupryse op

Klagtes van destydse boere klink ook bekend met produsente wat veral oor paaie en die staat se infrastruktuur gekla het.
Emile van der Merwe, die bestuurder van die plaaslike landbougenootskap, meen die wêreld verander vinnig, maar georganiseerde landbou het nog altyd bewys “wanneer ons saamstaan, bly ons sterk”.
Die streek se wenners, wat vroeër vandeesmaand by die Landbou Prestige Agri-toekennings vereer is, is ook uitgelig. Die prysuitdeling, wat sedert 2005 deur die Wes-Kaapse departement van landbou gereël word, het 1 393 deelnemers uit 16 streke gelok.
Die Stellenbosse Landbougenootskap bedank alle produsente en werkers wat aan die kompetisie deelgeneem het.






You must be logged in to post a comment.