STELLENBOSCH – Kommentaar en klagtes oor die Stellenbosch-hospitaal het die afgelope week op sosiale media ingestroom nadat ‘n Jamestown-familie hul ervaring gedeel het van hoe die 10 maande oue Mileeck Newman in die hospitaal gesterf het.
Mileeck is Vrydag 21 November deur sy ma, Tammy (18), na die plaaslike staatshospitaal gehaas nadat hy volgens die familie gesukkel het om asem te haal.
Tammy se ouer suster, Jodine, het na afloop van Mileeck se dood ‘n inskrywing op Facebook geplaas oor wat die gesin as die hospitaal se nalatigheid beskou. “Hy het net vinnig begin asemhaal; wou niks eet of drink nie. Hy was so pap,” het sy geskryf.

Jodine het vertel haar suster moes personeel glo ure lank smeek om haar seuntjie te help. “Sy huil, sy smeek, ‘asseblief, verpleegster, help net my kind met minstens ‘n drup; julle betaal mos nie daarvoor nie’. Die verpleegster aan diens het my sussie uitgelag – gemorste!” lui die inskrywing.
Jodine het aan Eikestadnuus gesê Tammy is te emosioneel en oorweldig om met die media te praat, maar die familie voel hul ervaring móét gedeel word sodat die hospitaal verantwoordelik gehou kan word.
Na afloop van Jodine se plasing op sosiale media het talle ander Stellenbossers hul slegte ervarings met die hospitaal gedeel. Klagtes oor die gehalte van diens, ‘n gebrek aan duidelike antwoorde oor gevalle en nalatigheid was onder die klagtes wat deur inwoners uitgelig is.
Jodine beweer al wat haar susterskind ontvang het, was Panado, waarna hy “styf getrek” en sy ogies toegemaak het.
‘Daarmee saam lewe, sterk hou’
Tammy het die onwerklikheid van haar seuntjie se dood Sondag 23 November op sosiale media gedeel.
“Nooit het gedink ek sal ooit die mammie wees oor wie se baba almal inskrywings sou maak nie. Ek sien die afgelope tyd al die mammies wat hul kinders verloor en ek vra myself hoe gaan ek dit ooit kan hanteer soos dié mammas dit hanteer? En kyk vandag… Maar al wat ek kan doen is om net daarmee saam te lewe en my sterk te hou. Ek weet my baba is op ‘n beter plek,” meen sy.
By navraag het Sandra Maritz, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, bevestig Mileeck is Vrydag in die hospitaal oorlede nadat die seuntjie se toestand vinnig agteruitgegaan het.
Hersiening begin
“Volgens ons rekords het mej. Newman haar baba die nag van 21 November na die Stellenbosch-hospitaal se noodsentrum gebring. Hy is met aankoms geassesseer en in die vroeë oggendure deur ‘n dokter ondersoek. Hy is toe in die kinderafdeling opgeneem. Op die oomblik toe mej. Newman gevra het oor ‘n oorplasing na ‘n ander fasiliteit, het die baba se toestand vinnig agteruitgegaan. Ten spyte van die mediese span se pogings om hom te resussiteer, is hy ongelukkig oorlede,” het Maritz verduidelik.
Sy het bygevoeg beide die hospitaal én die departement beskou die kommentaar van die familie in ‘n ernstige lig. “Die hospitaal het ‘n gedetailleerde hersiening van die sorg wat verskaf is, begin, sodat ons ten volle kan verstaan wat gebeur het.”
Intussen het Tammy ander mammas, wat soortgelyke ervarings deurgemaak het, gevra om met haar in verbinding te tree “om op te staan vir almal en almal kan opstaan vir my”. Sy meen hoewel dit niemand se geliefde sal terugbring nie, dit ‘n volgende mens se lewe kan red.
‘n Gedenkdiens vir Mileeck word vandag (Donderdag 27 November) om 19:00 by Mountain View-weg 196 gehou.





You must be logged in to post a comment.