Inwoners van Jamestown hoef nie meer na Idasvallei vir leesstof te reis nadat die plaaslike biblioteek heropen is nie.
Die biblioteek is destyds tydelik gesluit nadat strukturele probleme by die gebou ontstaan het. Bouers het sedert Augustus verlede jaar gewerk om die fondament van die gehou en die gekraakte mure te herstel. Nou is die klein dog spoggerige biblioteek se deure weer oop.
Die biblioteek het ook vier rekenaars en bied gratis toegang tot WiFi.
Vir inwoners soos Anne Paulse (60), wat veral lief is vir boeke oor romanse, is die heropening van die biblioteek in Pajarolaan ‘n aanwins. “My pa het altyd gesê ek is ‘n boekwurm. Ek is môre (Dinsdag) hier om boeke te kom uitneem,” het Paulse die afgelope Maandag gesê. Sy sê ook sy het gereeld moeite gedoen om te hoor wanneer die biblioteek weer sal open.

Volgens Sarala Majudith, die bestuurder van biblioteke, is die plaaslike biblioteekspan gereed om te help.
“Ons het ‘n groot verskeidenheid vir grootmense, leerders en kinders – alles van prenteboeke tot studiegidse. Die uitreikdienste wat ons aan skole en bejaardes bied, sal ook voortgaan,” sê Majudith.
Benewens die struktuele werk het die kinderhoekie danksy kunswerk van Chalmane Kruger ‘n nuwe baadjie gekry.
Kruger, van Klapmuts, het verskeie karakters en prente in die kinderafdeling geskilder. Die werk het haar vir 11 dae besig gehou.
Hoewel dit die eerste keer is dat sy só ‘n kunsprojek aanpak, hoop sy die vrolike prentjies sal tot ‘n verwelkomende atmosfeer bydra.
Rdl. Ndipiwe Olayi, die burgemeesterskomiteelid vir sport, kuns en kultuur, het die biblioteek uitgewys as ‘n fasiliteit waar Jamestowners bymekaar kan kom om te leer, te bou en pret te hê. “Dit is veral gepas dat die heropening in geletterdheidsmaand plaasvind. Leiers is lesers en die biblioteek bied ‘n geleentheid vir Jamestowners om te leer, vaardighede te ontwikkel en om die jeug ‘n alternatief vir kattekwaad te bied.”
Olayi voeg by sy volgende groot taak wat biblioteke betref, is om te verseker alle senior amptenare van die Stellenbosch-munisipaliteit het en gebruik hul biblioteekkaartjies.
Die Stellenbosch-biblioteek ondergaan ook tans opgraderingswerk en sal na verwagting in Januarie heropen.
- Die biblioteek is Maandae, Woensdae en Vrydae van 08:30 tot 17:00 oop. Dinsdae en Donderdae is die biblioteek van 09:30 tot 18:00 oop en van 08:30 tot 12:30 op Saterdae.






You must be logged in to post a comment.