Die Laerskool Rietenbosch se juffrou Glenn Crowley by Mario Jooste (12) en Lyle Zimry (12) van dié skool se Chinese klub. Crowley en Mario is op pad na Asië danksy hul betrokkenheid by die klub. Foto: Yaël Malgas

By die Laerskool Rietenbosch groet Mario Jooste nie met “goeie middag” nie, maar liewer “Ni hao”.

Dié gr.6-leerder is eersdaags op pad China toe waar hy Suid-Afrika in die Chinese Bridge-kompetisie sal verteenwoordig en sy talent in Mandaryns ten toon sal stel.

Mario is een van die skool se 12 leerders wat lid van die Chinese buitemuurse klub is. Die 12-jarige het in Junie saam met sy klasmaat Lyle Zimry aan die Chinese Bridge-kompetisie vir laerskole deelgeneem. Die twee het met die eerste twee plekke weggestap.

“Ek het voorheen – in 2023 – aan die kompetisie deelgeneem, dus was ek nie hierdie keer so senuweeagtig nie. Ek was baie gelukkig en trots toe hulle sê ek het gewen,” vertel Mario.

Die skool se klub word deur die Confucius Instituut van die Universiteit Stellenbosch (CISU) behartig. Hier kry leerders die geleentheid om meer oor die Chinese kultuur, speletjies en taal te leer.

Die Laerskool Rietenbosch se juffrou Glenn Crowley by Mario Jooste (12) en Lyle Zimry (12) van dié skool se Chinese klub. Crowley en Mario is op pad na Asië danksy hul betrokkenheid by die klub. Foto: Yaël Malgas

Volgens die onderwyser Glynn Crowley is die klub gewis ‘n aanwins vir Rietenbosch-leerders, omdat hulle blootstelling aan ‘n internasionale wêreld kry. “Die kinders van Cloetesville praat Mandaryns,” skerts sy.

Benewens die klub ontvang die gr. 3- en gr. 4-leerders Mandarynse klasse.

“Om die taal aan te leer, is iets wat niemand van die kinders kan wegneem nie. Globaliseering beteken ons leerders kan eendag internasionaal leer en werk, en met hierdie program het hulle gewis ‘n voorsprong. Die leerders besef hul wêreld is groter as net Cloetes- ville en Stellenbosch en daar is niks wat hulle keer om goeie, hoë salarisse in ander lande te gaan verdien nie,” verduidelik Crowley, wat as skakel tussen die CISU en die skool dien.

Lyle het by die klub aange- sluit om meer oor China te leer en kan nou in Mandaryns sing en voordra, soos hy in vanjaar se kompetisie gedoen het. Benewens die klub is Lyle ook ‘n vurige gholf- en skaakspeler, met wetenskap as sy gunstelingvak.

Mario geniet op sy beurt veral wiskunde en wil ná skool ‘n dokter word. “Ek wil al die mense help wat nie mediese hulp kan bekostig nie,” sê hy.

Nou maak Mario en Crowley gereed vir hul vlug na Asië op Woensdag 17 September as gaste van die Chinese regering.

“Alles wat ons by die [Junie] kompetisie gedoen het, moet nou in vyf minute gedoen word. My Chinese juffrou het my gehelp om my toespraak en dans te verkort. Elke dag moet ons aktiwiteite doen en aan die einde van die dag moet ons ‘n taak skryf,” verduidelik hy.

Mario is bekend vir sy Mandaryns. Hy vertel mense stop hom gereeld in die buurt en vra hom om iets in Mandaryns te sê.

Hoewel dit Mario se eerste keer oorsee sal wees, sal dit Crowley se derde besoek aan China wees. “Die voordele van internasionaal reis en die empatie wat jy vir ander ontwikkel, is groot. Daarom wil ek kinders aanspoor om oorsee te reis. Ouers – indien jy jou kind ‘n voorsprong wil gee, skryf hulle by die Laerskool Rietenbosch in,” spoor sy ouers aan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article