Om die huidige stand van die Stellenbosch-munisipaliteit se beplanning vir ‘n multiverdiepingparkeerplek enigiets anders as ‘n fase van publieke-private-vennootskap (PPP) te noem, is om dié kwessie ‘n status te gee wat dit nie toekom nie.
So meen die Stellenbosch-belangegroep (SBG) nadat die Stellenbosch-munisipale raad verlede Woensdag (30 Julie) ‘n item ter tafel gelê het wat ‘n belangstellingsverklaring vir die projek goedgekeur het.
In ‘n poging om die voortslepende verkeersprobleme en tekort aan parkeerplek in die Eikestad-middedorp aan te pak, het die plaaslike munisipaliteit ondersoek ingestel om te kyk hoe lewensvatbaar ‘n multiverdiepingparkeerplek agter die stadsaal sal wees.
Die eerste weergawe van die munisipaliteit se planne is in September 2017 van stapel gestuur met die destydse raad wat ‘n ondersoek na ‘n “interne parkeringsdiens” begin het. Sedertdien het die munisipaliteit besluit om op ‘n parkeerplek te fokus.
Verlede jaar, tydens ‘n openbaredeelnameproses, het teenkanting vanuit verskeie oorde, onder andere die Young Urbanists en die SBG, gekom, met ‘n petisie wat ook opgestel is. Die petisie het meer as 3 000 handtekeninge bevat.
Die beplanningsproses het voortgegaan en ‘n lewensvatbaarheidstudie vir die projek is in Augustus 2024 goedgekeur. ‘n Verkeersimpakstudie is ook saamgestel.

Volgens Reginald Pheiffer, raadslid en burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur, sal die belangstellingsverklaring gebruik word om die mark te toets en inligting te versamel.
“Die doelwit is dus om die markbelangstelling in die Eikestad PPP-geleentheid te peil en die kapasiteit en gereedheid van die potensiële privaatsektorvennootskap te beoordeel. Dit is om tegniese insigte en innoverende voorstelle in te samel wat die projekstruktuur kan verbeter en wetlike en regulatoriese risiko’s vroeg en proaktief te identifiseer,” sê Pheiffer.
Jacobus Davids, ANC-raadslid, meen ‘n holistiese benadering moet gevolg word om die dorp se verkeersprobleme op te los. Davids moedig die munisipaliteit aan om oplossings binne die bestaande ruimtelike ontwikkelingsraamwerk, die meesterplan vir nie-gemotoriseerde vervoer en die geïntegreerde vervoerplan, te vind.
“[Die parkeerplek] is maar een van verskeie opsies . . . ons moet dit nie uit die oog verloor nie, want daar is reeds raadsbesluite en beleid aanvaar. Ons moet hierdie monster baie gebalanseerd en ingelig benader en die harde werk wat reeds gedoen is in ag neem, omdat ons ook baie versigtig is vir publieke-private-vennootskappe, wat met sy eie uitdagings kom,” sê Davids.
Die speaker, Quintin Smit, het uitgelig dat die projek steeds in sy beplanningsfase is. “Ons moenie die publiek deurmekaar maak met wat ons sê nie,” sê Smit.
“Kom ons verstaan die proses en waar ons daarmee trek. Wanneer ons dan ‘n openbaredeelnameproses het, en as die munisipaliteit sy deure oopmaak vir kommentaar, dan sê ons ‘bring jou kommentaar’ en gebaseer op petisies en insae, neem ons ‘n besluit.”
Die SBG stem egter nie saam nie. In ‘n verklaring het die organisasie vandeesweek gesê hoewel die belangstellingsverklaring elemente van openbare deelname het, stel die nasionale tesourie dit duidelik dat dit vroeg in die projekbeplanning moet plaasvind.
“Ons moes nooit hierdie stadium bereik het om ‘n belangstellingsverklaring uit te reik nie – veral nie vir die voorgestelde parkeergarage nie.
Dit is onlogies en kom neer op versiering. ‘n Openbaredeelnameproses het reeds verlede jaar plaasgevind, waartydens daar sterk teenkanting van die gemeenskap teen so ‘n ontwikkeling was.
“Ten spyte hiervan het die raad reeds besluit dat iets – of dit nou ‘n parkeerstruktuur of ‘n ander fasiliteit is – op die terrein gebou moet word, vandaar die voortsetting van die publieke-private-vennootskap.”
Die SBG meen die munisipaliteit moet die hele plan om die gebied agter die stadsaal te ontwikkel, skrap.
Nadat die belangstellingsverklaring uitgereik en die proses voltooi is, beoog die munisipaliteit om in Oktober ‘n konsepversoek vir voorstelle saam te stel, wat met ‘n openbaredeelnameproses gepaard sal gaan.






You must be logged in to post a comment.