Die Stellenbossers Chriszelda Williams en Hajiera Arnolds by die afrigter Keeno Damons (middel) op die Kaapstadse lughawe.

‘n Ouer van een van die jong spelers wat vroeër vandeesmand in Portugal gestrand was, het vandeesweek ‘n saak teen die BT Football-akademie aanhangig gemaak, met ander Stellenbosch-ouers wat sê hulle maak gereed om dieselfde te doen.

Die publikasie Plainsman het Maandag berig dat ‘n ouer ‘n saak van bedrog by die Grassy Park-polisiekantoor teen BT Football se eienaar, Brandon Timmy, aan- hangig gemaak het.

Volgens ‘n Stellenbosch-ouer wie se seun onder die 38 was wat na Spanje gereis het om aan die Donostibeker-kompetisie deel te neem, is sy en ander plaaslike ouers besig om alles gereed te kry om seker te maak daar is nagevolge vir die akademie. Dit volg nadat die groep afrigters en sokkerspelers moes hoor daar was geen vliegtuigkaartjies vir hul terugkeer na Suid-Afrika nie.

BT Football het jaarliks verskeie groepe spelers wat na Portugal reis as deel van die BT Football-akademiespan wat proewe speel, met die hoop om deur ‘n internasionale spankeurder raakgesien te word.

Vanjaar was egter die eerste keer wat spanne aan die Donostibeker-kompetisie in San Sebastián, Spanje deelgeneem het.

Timmy het voorheen aan Eikestadnuus gebieg die reëlings vir die toer was nie goed genoeg beplan nie.

Die Stellenbosser Chriszelda Williams sê die ondersteuning wat die toergroep se ouers van die Stellenbosch-gemeenskap gekry het, was besonders.

“Ons wil ook elke persoon, kerk en plaaslike sokkervereniging bedank wat stilweg, agter die skerms, bygedra het, of gekies het om anoniem te bly. Selfs al ken ons nie julle name nie, het julle vrygewigheid, gebede en ondersteuning die wêreld vir ons beteken. Mag julle ryklik geseën word,” het Williams op sosiale media geskryf.

Die geldinsameling het veral ‘n hupstoot gekry nadat Tracey Lange, mediapersoonlikheid en Kfm-omroeper, op Sondag 20 Julie op haar sosialemediablad die publiek gevra het om te help sodat vliegtuigkaartjies vir die groep gekoop kon word.

Volgens die provinsiale departement van sport en kultuursake is BT Football nie verbonde aan die departement nie en as sulks kan hulle nie teen die klub of bestuur optree nie.

Tania Colyn, woordvoerder vir die departement, het by navraag gesê ‘n sportklub is ‘n private entiteit en hoef as sulks nie by die departement te registreer nie.

“Die departement finansier sportklubs deur ons geaffilieerde en geakkrediteerde federasies, wat deur ‘n streng kontrole- proses gaan voordat hulle finansier word.

“Ouers moet ook kyk of die klub by ‘n federasie geaffilieer is, aangesien hulle dan deur die reëls vir daardie spesifieke kode gereguleer sal word.”

Sy voeg by enige geaffilieerde klub sal deur hierdie regulasies beheer word.

Intussen het die afrigters wat deel was van die toer, waaronder Keeno Damons van Cloetesville, bedank en hulle van BT Football gedistansieer.

Ouers en ondersteuners op die lughawe om die BT Football-toergroep terug te verwelkom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article