Die bydrae van twee groot Afrikaanse digters is met musiek en voorlesings in Sproeireën en kantelson gevier – ‘n vertoning wat die werke van Ingrid Jonker en D.J. Opperman van nader bekyk het.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuur- vereniginge (FAK) het voorverlede Saterdag (19 Julie) gaste by Die Laer verwelkom waar die akademikus-paar proff. Wium en Dorothea van Zyl ‘n gedenklesing oor die twee digters gelewer het. Die akteurspaar Carel Trichardt en Petru Wessels het die poësie by die geleentheid voorgelees terwyl toonsettings van die digters se werke deur Grethe van der Merwe opgevoer is.
Ten spyte daarvan dat sy slegs twee digbundels in haar leeftyd gepubliseer het, het Jonker haar in die Afrikaanse literatuur gevestig, sê prof. Dorothea. Jonker se debuutbundel, Ontvlugting, het in 1956 verskyn en is gevolg deur Rook en Oker in 1963. “Sy was soveel meer as slegs hierdie tragiese femme fatale soos vele haar beskryf het,” sê Dorothea.
Sy het vertel van Jonker se onstabiele kinderdae met ‘n ma wat geestesgesondheidsprobleme gehad het en ‘n pa, Abraham Jonker, ‘n Nasionale Party-parlementslid en later voorsitter van die sensuurraad, wat meer in sy politieke loopbaan as sy dogters belanggestel het.
Jonker se liefdeslewe was stormagtig, met onder meer ‘n mislukte huwelik met Pieter Venter en verhoudings met die skrywers Jack Cope en Andre P. Brink.
Nou, 60 jaar ná haar selfdood, word Jonker onthou vir haar gedigte van egtheid en broosheid.
“Sy was juis volwaardig vroulik. Sy was ‘n baanbeker in die Afrikaanse poësie juis omdat sy volwaardig sterk vroulik was. Sy het vir die eerste keer sedert Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan verse gelewer wat meisie-, vrou- en ma-wees pragfyn en sensitief verbeeld. Sy het ‘n ander, eiesoortige stem as die meer robuuste Elisabeth Eybers. Soms is sy speels en lig en soms is sy passievol, baie somber, maar inderdaad altyd intens,” sê Dorothea.
Sy het 19 van Jonker se gedigte bekyk, aangesien 19 ‘n belangrike syfer in Jonker se lewe was. Sy is op 19 September 1933 gebore en is op 19 Julie 1965 dood.
Op sy beurt het prof. Wium gesels oor Opperman, wat vanjaar 40 jaar gelede oorlede is. Hy was self ‘n student van dié digter en vertel hoewel Opperman mompelend klasgegee het en nie juis ‘n goeie spreker was nie, hy ‘n mentor vir vele digters was. Hy het Opperman se gedig “Man met flits” van nader bekyk.
Elizma Smith, die FAK-kultuurkoördi- neerder in die Kaap, sê die FAK-span sal nog vele sulke geleenthede aanbied.





