Dylan Maart in aksie vir die Griquas. Foto: Verskaf

In ‘n seisoen wat reeds as een van die mees onvergeetlike in Griquas se geskiedenis beskou word, het Dylan “Thabo” Maart van Wellington ‘n sleutelrol in dié span se merkwaardige pad na Curriebeker-glorie gespeel.

Vir Maart, wat jare gelede nog in ‘n fabriek gewerk het en ná oefening in sy veiligheidskoene moes hardloop, is die triomf veel meer as net ‘n oorwinning op die rugbyveld.

“Ek dink dis die hoogtepunt van my rugbyloopbaan tot op hede,” sê Maart.

“ ’n Paar jaar terug sou ek nooit kon droom dat ek vandag ‘n Curriebeker-kampioen sou wees nie. Om deel te wees van ‘n span wat ná 52 jaar weer hoop en glorie vir Kimberley bring, is ongelooflik spesiaal.”

Met hul seisoensleuse “Finding a way no matter what”, het die Griquas van vroeg af gewys dat hulle nie maklik gaan lê nie – en beslis nie ná ‘n slegte nederlaag teen die Pumas in die eerste week nie.

“Almal het ons afgeskryf. Maar ons coach het ons daardie week herinner: ons speel nie teen ‘n URC-span nie, maar teen 23 mense van die Lions. Ons het geglo ons kán wen,” vertel Maart.

Dylan Maart glimlag breed met die Curriebeker-trofee in sy hande. Foto: Verskaf

“Voor die wedstryd het ek vir myself gesê: géén spyt nie. Ek moes als op die veld los. Ek het dit vir my ma gedoen wat verlede jaar oorlede is. Sy was my inspirasie.”

Maart, wat in 2024 as Griquas se Spe- ler van die Jaar aangewys is, sê hy het hard gewerk om te wys dat dit nie net ‘n eenmalige prestasie was nie.

“Ek probeer elke week my beste gee – eerstens vir myself, en dan vir die span. Ons veg vir mekaar, op en van die veld. Dis lekker om te weet jou spanmaats staan agter jou.”

Die steun van sy afrigter en spanmaats speel ‘n groot rol in sy selfvertroue. “Wanneer jy daai backing van jou coach kry, kan jy jouself uitleef. En as jou spanmaats jou besluite vertrou, weet jy julle is op dieselfde golflengte. Dis iets besonders.”

Maart is onlangs opgeneem in ‘n voorlopige Stormersgroep. Die kans om homself teen die wêreld se bestes te meet, is iets wat hy nie ligtelik opneem nie. “Om net daar te wees is al klaar groot vir my. Ek hou van die manier hoe hulle speel – om die bal te laat leef, nes ons by die Griquas doen. En hul kultuur is baie spesiaal. Ek sien dit as ‘n kans om myself teen die bestes te toets.”

Anders as baie professionele spelers het Maart eers ná skool ernstig begin rugby speel. Sy pad was nie maklik nie.

“Ek moes werk en rugby speel. Ná werk het ek in my safety boots tot by Boland-stadion gedraf. Dit was moei- lik, maar ek het geweet God sien elke opoffering.”

Hy gee erkenning aan mentors soos oom Moos by Terason, Reggie Manuel en Franzel September by Boland, maar ook aan die mense naby aan sy hart.

“Cheslin Kolbe en Kurt-Lee Arendse inspireer my op die veld. Maar buite die veld is dit my ouma Lily en sustertjie Lee-Shay.”

Vir Maart is die uiteindelike droom om die Springbok-trui aan te trek. Maar vir hom is dit meer as net ‘n persoonlike doelwit – dis ‘n getuienis van geloof, familie en volharding. “As jy God eerste stel en Hom betrek in alles wat jy doen, sal jy sukses sien.

“Ek doen dit ook vir my ma wat nie meer hier is nie, en vir my familie by die huis.”

Sy boodskap aan ander jongmense? “Moet nooit toelaat dat jou omstandig- hede jou toekoms bepaal nie. Vertrou op God, Hy sal ‘n pad maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article