TygerBurger

Duur snoek vir Paasfees kom glo uit “Betlehem” of met die “plain”


“Nhaai, my broe’tjie, ek kannie help virie prys nie, die sie beslyt mos self!”

Só sê die een vissmouse in Hindle-weg. Hy praat terwyl hy ‘n medium grootte snoek behendig oopvlek. Hy is een van talle vissmouse wat hierdie tyd van die jaar “incash” omdat die eg Kaapse gereg Kerrievis ‘n moet vir Kapenaars se Paastafel is.

Vir eeue reeds word snoek of ander vis ingelê en op Paasnaweek deur Christene saam met Paasrolletjies geëet. Die tradisie het ontstaan te danke aan slawe uit Maleisië en Indonesië, wat deur die VOC na die Kaap gebring is. Hulle het Oosterse speserye met plaaslike bestanddele gekombineer. Voor die bestaan van yskaste was die inlê van vis ‘n praktiese manier om dit vir weke vars te hou.

ALSO READ: No more Easter bunny, warns bunny lover from Durbanville

Maar ‘n week voor Paasnaweek vanjaar het ‘n krisis glo ontstaan – te min snoek is in die water rondom die Kaap. Hierdie situasie veroorsaak dat die pryse van snoek ondraaglik styg.

En dit is waar Kapenaars se humor na vore kom. Op ‘n plasing op Facebook vir snoek wat tussen R542 en R675 kos, het mense behoorlik losgetrek. “Die snoek kom seker weer uit Betlehem, só duur is dit,” skryf een. ‘n Ander voel weer die snoek het met die “plain” gekom.

“Dis kerriehoender of blikkievis vir my,” mor een en voeg by dat die verkoper “nie lekker in die kop” is nie. Maar die beste kommentaar is: “Wiet Liewe Jiesas dat hulle so baie vir vis vra wat Hy verniet laat swem?”

* TygerBurger het ‘n navraag na die departement vissery en bosbou gestuur om vas te stel of daar regtig ‘n tekort aan snoek is. Die departement het teen druktyd nog nie kommentaar gelewer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article