Terwyl baie nog wag vir hul Kersfeesvleis en lekkernye, is die “hamper lady”, soos sy bekend staan, reeds besig om nuwe kliënte te werf vir haar Paasfees-, skryfbehoeftes- en ander hampers vir die jaar.
Slagoffers van die hamper lady is woedend oor die droë Kersfees weens leë beloftes van haar, en baie het duisende rande verloor.
Volgens Sarah Salie (60) het sy elke maand haar pensioengeld geneem en net meer as R2 000 per maand betaal vir haar verskillende hampers. “Ek het meer as R22 000 vir die jaar betaal en elke keer as ek navrae doen oor my goed, word ek beledig,” vertel Ouma Salie.
Sy sê: “Ons is beledig as die betaling laat is en moet dan ’n boete betaal.”

Volgens Salie se buurvrou, wat R4 000 betaal het, het sy absoluut niks gekry nie.
Beloftes van kwaliteit produkte was ook alles net sêgoed en van die produkte wat wel afgelewer is, was egter “no name”-produkte, vertel hulle.
Volgens ’n polisiebeampte van Paarl, wat ook ’n slagoffer van die “hamper lady” is, is sy meegedeel dat die hamper lady se bankrekening gevries was en dat die hampers daarom nie afgelewer kon word nie.
“Dit was verskoning op verskoning,” vertel die polisiebeampte, en sê haar hamper was meer as R4 000, maar sy het net ’n bietjie meer as R1 000 se waarde gekry.
Salie vertel dat wat haar die meeste omkrap, is dat sy as pensionaris ook ’n sopkombuis uit haar eie sak bedryf, en gedink het dat die hamper ook ’n glimlag op ander se gesigte kon sit, omdat sy minderbevoorregtes met ’n Kersmaaltyd wou bederf.







You must be logged in to post a comment.