UPINGTON – Twee bekende en gerespekteerde inwoners van dié dorp is verlede week op dieselfde dag aan natuurlike oorsake oorlede, terwyl ‘n jong ma wat in Upington grootgeword en skoolgegaan het, enkele dae voor hulle in ‘n motorongeluk oorlede is.
Manie de Wee (57), bekende en beminde saksofoonspeler van Louisvaleweg, is by sy huis oorlede. Volgens sy vrou, Linda (54), is hy op Woensdag 29 April omstreeks 05:00 in die slaapkamer aan ‘n “massiewe hartaanval” oorlede.
Marthinus Hermanus de Wee was vir die afgelope 13 jaar ‘n toegewyde wiskunde-onderwyser by die Laerskool Oranje-Oewer. Hy sou vanjaar uit die onderwys getree het.
Manie of “Mr Moonshine”, soos die gemeenskap hierdie nederige man geken het, het veral bekendheid verwerf as ‘n briljante saksofoonspeler van formaat wat by troues, begrafnisse en sosiale partytjies opgetree het.

“Sy dood het as ‘n groot skok vir ons gemeenskap gekom. Manie se stem en sy musiek is nou stil, maar hy sal vir altyd in ons harte wees”, sê sy vrou.
Linda is soos haar man ook in die onderwys. Sy is vir die afgelope nege jaar by die Primêre Skool Simbrüner betrokke.
Op Oranje-Oewer Facebook-blad skryf personeel: “It is with great sadness that we announce the passing of our colleague Manie de Wee, a valued kind soul and a friend to many. You will be deeply missed and never forgotten”.
Die ontslapene laat sy vrou, ‘n broer en ses susters agter. Hy word ook oorleef deur sy drie seuns, Fabian (34), Marlon (28) en Francois (18), asook twee kleinseuns, Calem en Cabian.
- Hy word Saterdag 9 Mei vanuit die Lutherse gemeente in Louisvaleweg ter aarde bestel.
Veelsydige krieketspeler en -afrigter oorlede
Franklin Peter Orange (56), veral bekend as veelsydige krieketspeler en -afrigter van Upington en omstreke, is Woensdag 29 April oorlede nadat hy gesukkel het om asem te haal.
Volgens sy suster, Eloise Brand (50), het hulle hom inderhaas na die Harry Surtie-hospitaal in Upington gebring en kort nadat hy opgeneem is, is hy reeds deur hospitaalpersoneel as dood verklaar.
“Ons as familie van Franklin berus in wat gebeur het. Dit was God se wil gewees om ons broer uit ons midde weg te neem”, sê Llewellyn (53), jonger broer van Franklin. “Ek sal hom baie mis. Hy was my broer vir wie ek altyd lief was”, sê Llewellyn.
“Franklin was saggeaard en hy kon so mooi en rustig met mense gesels,” sê Eloise. “Sport en veral krieket was sy groot liefde.” Franklin het diep spore as ‘n briljante veelsydige krieketspeler getrap, en was ‘n vaardige krieketafrigter by verskeie skole in Upington en omgewing. Sy geesdrif en liefde vir die spel het boekdele gespreek.

Hy was die eerste kleinkind van wyle oom Lukas en ant Miena Orange van Upington. Franklin het op 1 Mei 2013 in die huwelik getree met Nadine September. Sy is op 15 Julie 2023 ná ‘n kort siekte oorlede.
Franklin het voorheen vir ‘n geruime tyd vir die verkeersafdeling van die plaaslike munisipaliteit gewerk.
Hy word oorleef deur sy suster, broer en ‘n breë familie-en vriendekring. Hy was die oudste van drie kinders van wyle Frank en Katriena Orange.
- Op hierdie stadium is geen begrafnisreëlings bekend gemaak nie.
Jong ma sterf in motorongeluk
‘n Jong Noord-Kaapse ma van twee is verlede naweek op pad van Port Nolloth onderweg na Alexanderbaai waar sy gewoon het, in ‘n motorongeluk oorlede.
Die 24-jarige Sydney Havana Feris was die bestuurder van die voertuig waarin haar lewensmaat, Gershwin Engelbrecht (31), en hul twee kinders Zarah (3) en Cody (3 maande) die passasiers was. Volgens inligting het die ongeluk op Sondag 26 April gebeur nadat ‘n band van hul voertuig vermoedelik gebars het.
Gershwin, ‘n finansiële bestuurder by Alexkor in Kleinsee, het ligte kopbeserings opgedoen en die twee kinders is ongedeerd.
Sydney is ‘n oud-leerder aan die Hoërskool Upington en het in 2019 matrikuleer. Sy was ‘n briljante danseres van die Nastassia Zealand-dansskool in Upington. Die skool het met skok kennis geneem van haar dood.
Nastassia Zealand skryf in haar WhatsApp-boodskap: “Sydney was a vibrant, energetic and passionate dancer. She was very loyal to her team members. She diligently came to class and didn’t like being late. With the Nastassia Zealand Dance School she entertained many at all kinds of events. She was always doing our makeup and loved spending time with us, her dance family. She could do any genre and perform it with excellence. Sydney finishes dance school as a South African Champion and was chosen to dance in Los Angeles, USA, in 2019. She was looked up to at dance and inspired many to join our dance group”.
Sydney was die tweede oudste dogter van Collin en Maxine Feris van Upington. Sy laat haar ouers, twee kinders, twee sussies, haar lewensmaat en ‘n breë familie-en vriendekring agter.
- Haar begrafnis vind op Saterdag 9 Mei vanuit die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in Upington plaas.






You must be logged in to post a comment.