KAAPSTAD – Wes-Kaapse provinsiale speurders ondersoek die omstandighede rondom ‘n skietvoorval wat die lewens van drie mans tussen die ouderdomme van 18 en 39 jaar geëis het in die vroeë oggendure van Sondag, 24 Augustus.
Die voorval het omstreeks 00:40 in Daventrystraat, Stradford Green, Eersterivier plaasgevind toe drie onbekende gewapende mans op die drie slagoffers wat in die agterplaas gesit het, begin skiet het.
Volgens inligting het die aanvallers sonder waarskuwing op die mans begin skiet, waarna die verdagtes te voet vanaf die toneel gevlug het.
Die polisie doen ‘n dringende beroep op die publiek om enige inligting wat tot die arrestasie van die verdagtes kan lei, aan te meld. Lede van die gemeenskap kan Crime Stop kontak by 08600 10111 of die MySAPS mobiele toepassing gebruik om anoniem inligting te verskaf.
“Alle inligting sal vertroulik hanteer word,” het die polisie verseker.
Die ondersoek duur voort.





