Die toneel by die tehuis in Altenaweg waar ’n brand Sondagmiddag tydens middagete by ’n woonstel op die vyfde verdieping uitgebreek het. Foto’s: Estelle Lecoq

Credit: SYSTEM

Operasie Opruim is van stapel gestuur nadat ’n brand op ’n rustige Sondagmiddag by Altena-tehuis in Strand verwoesting gesaai het.

’n Hoekwoonstel op die vyfde verdieping is in die vlammehel wat kort ná 13:00 uitgebreek het, verswelg.

Personeel van verskeie nooddienste asook vennote in die stryd teen misdaad het spoedig op die voorval gereageer. Die brand is tot die woonstel beperk en die woonblok is onmiddellik ontruim.

Volgens KC Gericke, veiligheidsvoorsitter van Afriforum Strand, is inligting oor die voorval via WhatsApp ontvang en het lede insluitend een wat in die omgewing patrolleer en die rook in die lug sien trek het, onmiddellik gereageer. Binne minute was altesaam 16 lede op die toneel waar hulle gehelp het om verkeer te herlei, die brand te bestry en bejaarde inwoners te ontruim. Bystand is gelewer deur reaksielede van private sekuriteitsmaatskappye insluitend AM Security, Fidelity ADT en Gordonsbaai Sekuriteit, asook die ambulansdienste GB Med Rescue en Metro EMS.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste, sê die noodoproep is Sondagmiddag omstreeks 13:15 ontvang van ’n woonstel wat in Altenaweg brand.

“Brandweerspanne van Strand, Somerset-Wes, Macassar en Sir Lowry’s Pass was op die toneel met vier brandtoestelle, insluitend die hidrouliese platform en ’n reddingsvoertuig. Altesaam 21 brandbestryders was op die toneel,” sê Carelse.

“By ondersoek is gevind dat ’n eenheid op die vyfde verdieping vlamgevat het. Teen 14:20 het brandbestryders daarin geslaag om die brand te blus wat die hele woonkwartiere en meeste van die vensters in die gang beskadig het. Die woonstelblok is ontruim en geen beserings is aangemeld nie.”

Carelse voeg by dat die vlammehel aansienlike skade aan die gebou aangerig het en ’n strukturele ingenieur het die gebied tot verdere kennisgewing gesluit.

Volgens Estelle Lecoq, Die Strand Naastediens NPC-skakelbeampte, het die brand tydens middagete terwyl die inwoners in die eetkamer aan tafel was, uitgebreek. Lecoq sê DSND-bestuur is onmiddellik ingelig van die brand wat in die hoekwoonstel op die vyfde verdieping ontstaan het, en het binne oomblikke gereageer om bystand aan personeel te ontbied en waar nodig is inwoners volgens die tehuis se ontruimingsplan na veiligheid gebring.

“Inwoners is soos nodig uit die gebou ontruim. Daar is ook ’n opname gemaak van al die inwoners om seker te maak dat almal veilig is,” sê Lecoq.

Volgens Lecoq het hulle in hierdie stadium geen kommentaar oor die brand se oorsaak nie; die ondersoek om dít te bepaal duur steeds voort.

Sy sê die enigste skade is die hoekwoonstel wat gebrand het.

Altena het 152 inwoners met 35 woonstelle op die vyfde verdieping.

Die gang wat gebrand het, bevat enkel-eenhede waarvan ses uit die sewe bewoon was.

“Die inwoner wie se eenheid uitgebrand het, is 78 jaar oud en sy is op die oomblik by haar kinders.

“Drie van die inwoners bly tans by familie en nog twee in Ametis-aftreeoord, wat nes Altena en Serenitas ook deel van DSND is.

“Die inwoners in daai gang moet net eers wag dat ons die gang kan skoonmaak voordat hulle kan terug trek,” verduidelik Lecoq.

“Die res van die inwoners is almal in hul eenhede. Die gebou is ook deur die brandweer en die ingenieur-inspekteur veilig verklaar.”

Lecoq voeg by dat berading deur ’n inwoner van Serenitas wat goedhartiglik haar dienste aangebied het, verskaf word. “Sy is ’n gekwalifiseerde berader met ’n diep begrip vir die uitdagings wat die inwoners ervaar. DSND is bevoorreg om sulke omgee- en betrokke inwoners te hê wat bereid is om hulp aan mede-inwoners aan te bied.

“Ons is oortuig dat [die berader] van onskatbare waarde sal wees vir die inwoners van Altena en dat hulle gemaklik met haar sal kan praat oor die traumatiese gevolge van die brand,” sê Lecoq.

Volgens Lecoq wil DSND-bestuur graag alle personeel bedank vir hul bystand en hulp met die brand en inwoners, asook alle vrywilligers wat skouer aan die wiel gesit het.

“ ’n Hartlike dankie aan die Feedem-personeel, GB MED, Helderberg Crime Watch, Afriforum Strand en Strand-buurtwag. Dit vervul ons harte met vreugde om te sien hoe almal saamstaan en help.”

Gericke bedank veral die Afriforum Strand-lede wat agtergebly het en humanitêre ondersteuning gelewer het.

REGS: Die oorblyfsels van die hoekwoonstel wat in die voorval in puin gelê is. Skade is tot dié woonstel en gang beperk.

Skade is tot die woonstel waar die brand ontstaan het, beperk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article