Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Vrydag 7 Junie by die aanvang van sy jaarlikse onderwyserskongres in die Wes-Kaap R10 000 aan die 17-jarige Danielle Kleyn oorhandig.
Die geld dien as beloning vir haar uitsonderlike wiskundeprestasies die afgelope twee jaar.
Danielle, ’n gr.11-leerder aan Hoërskool Parel Vallei, is in April as die beste vroulike deelnemer aan die Pan-Afrika-wiskundeolimpiade gekroon. Dit is die tweede jaar in ’n ry dat sy dié uitsonderlike prestasie behaal.
Danielle het boonop die toets in Engels afgelê, hoewel sy haar ganse skoolloopbaan in Afrikaans skoolgaan. “Dit is ’n bewys dat onderrig in jou moedertaal akademiese sukses verseker, al gaan leerders later jare in Engels skool,” het dr. Danie Brink, besturende direkteur van die SOS, op die kongres by Laerskool Durbanville gesê.
Die Wes-Kaapse deel van die onderwyskongres is deur sowat 170 onderwysers van amper 50 skole bygewoon.
“Hierdie prestasie is ook die gevolg van Danielle se deurlopende harde werk en deursettingsvermoë – twee van die belangrikste boustene van sukses en eienskappe wat die SOS hoog op prys stel,” het Brink bygevoeg.
Volgens Brink belê die SOS graag in die opleiding van belowende jong onderwysers en wil die organisasie harde werk beloon. Daarom het die SOS ook ’n studiefonds op die been gebring wat vanjaar reeds behoeftige onderwysstudente bystaan.
“Hoewel Danielle nog nie seker is wat sy wil studeer nie, wil ons graag van hierdie geleentheid gebruik maak om haar vir haar besonderse prestasie te beloon. Daarom oorhandig die SOS aan haar ’n eenmalige bedrag van R10 000 sodat sy haar passie in wiskunde kan bly uitleef deur aan ander internasionale kompetisies deel te neem en verdere opleiding in wiskunde te ontvang.”
Danielle sê sy gaan vir eers die geld spaar, omdat sy dit waarskynlik op universiteit gaan nodig hê om al haar uitgawes te dek.



