Twee dae ná ’n vergadering gehou is om aandag te gee aan Somaliese winkeleienaars wat vermoedelik afgepers word deur bendes, is ’n winkeleienaar aangeval ná hy glo geweier het om beskermingsgeld te betaal.
Dit kom nadat daar onlangs gerugte oor ’n nuwe misdaad-neiging die ronde begin doen het waarin beweer word Somaliese winkels in sektor 1 van Strand word glo geteiken om “tax”, oftewel beskermingsgeld, aan bendes te betaal om sake te doen.
Gerugte doen al die afgelope paar maande die ronde dat Somaliërs met winkels in sektor 1 deur bendes afgedreig word om beskermingsgeld te betaal. Dié gerugte het die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) genoop om Donderdag 22 Junie met verskeie rolspelers asook lede van die Strand-polisie te vergader om hierdie tendens te bespreek (“Winkeleienaars te bang om te praat,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 28 Junie 2023).
Op Donderdag 29 Junie het ’n vergadering tussen verteenwoordigers van Strand polisie, Strand Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), wetstoepassers en Somaliese-winkeleienaars plaasgevind by die munisipale gebou se konferensiesaal teen omstreeks 13:00 om al die kwessies aan te spreek.
Twee dae ná hierdie vergadering op Saterdag (1 Julie) teen omstreeks 19:00, is ’n Somaliese winkeleienaar aangeval by sy winkel ná hy glo geweier het om beskermingsgeld te oorhandig aan bendelede.
Adjudant-offisier Nico Beukes, woordvoerder by Strand-polisie, het die voorval bevestig en volgens hom is die winkeleienaar uitgeroep na sy winkel in Hassan Khan-rylaan in Rusthof.
“Met sy aankoms by die winkel het die winkeleienaar afgekom op drie verdagtes wat moeilikheid gemaak het by sy winkel. Die eienaar het die verdagtes berispe voor hy aangeval is deur hulle,” sê Beukes.
In ’n foto (wat te grusaam is om in die koerant te plaas) kan mens sien hoe die slagoffer ’n groot merk op sy kop het waar hy vermoedelik aangerand is deur van die verdagtes.
Die DistriksPos & Helderberg Gazette het uitgereik na die winkeleienaar vir kommentaar maar hy wou nie praat oor die voorval nie.
Op Woensdag 5 Julie is twee mans, onderskeidelik 25- en 30-jaar oud, in hegtenis geneem. ’n Saak van diefstal en aanranding met die doel om ernstig te beseer is teen die twee geopen.
Niklaas Thysen, woordvoerder van Strand GPF, wat ook gehoor het van die aanval, noem dat gevalle soos dié ernstig is maar die bal is nou in die Somaliese asook Pakistanse winkeleienaars se hande, want hulle moet voldoen aan die wetlike regulasies om geregistreerde besighede te wees.
“Die eienaars se winkels moet geregistreer wees, dis baie belangrik. Ons gaan maandeliks opvolg en saam met wetstoepassers kyk of die winkeleienaars voldoen aan al die wetlike vereistes. Die eienaars moet hul besighede self beveilig, dis nie iets wat die polisie kan doen vir hulle nie.
“As al die stappe gevolg word dan sal die gevalle minder en minder gebeur. Dis juis hoekom ons ’n oudit gaan doen van al die winkeleienaars in sektor een en twee,” sê Thysen.
Op Donderdag 6 Julie het die twee verdagtes hul eerste verskyning in die Strand-landdroshof gemaak.


