Ná ’n windstil Vrydag het die wind later teen afskoptyd om 21:00 sterk gewaai en Hamiltons het ten volle daarvan in die eerste helfte gebruik gemaak – soveel so dat hy ná sowat agtien minute drie keer gaan druk en 0-21 op die telbord voorgeloop het.
Swak verdediging en oordeelsfoute van Helderberg was duidelik bydraende faktore.
Hierna egter het Berge sterk gereageer en teruggekom in die wedstryd.
Ná ’n dryfbeweging van sy agttal het Conway Pretorius, kaptein en agtsteman, langs die pale oorgebars.
Sy skrumskakel, Michael Visser, het met die doelskop geslaag (7-21). In die 36ste minuut het die heelagter, Donvino Swartland, ’n aanvallende skop binne sy 22 raakgevat en op ’n opwindende lopie afgesit, waarin hy drie verdedigers geklop en sy span se tweede drie gedruk het. Die sterk wind het die doelpoging weggewaai (12-21; ook die rustyd-telling).
In die twintig minute ná die herbegin het Berge knaend aangeval, maar Hammies se verdediging was ondeurdringbaar. In hierdie stadium is plaasvervangers links en regs opgeroep om ander aanspraakmakers speeltyd te gee. Die uiteindelike dertien vervangings het Berge kontinuïteit gekos en ’n oënskynlike gebrek aan samespel het Hamiltons nog twee drieë laat druk om die stryd 12-31 te wen.
Vir Berge het sy haker, Jacques van Zyl, die slotte Chris Carstens en Shane Kennedy en sy lostrio – Pretorius, Nayim Jansen en Dua Groenewald – uitgeblink. Agter was Visser weer eens skerp, met die senter Quiwen Bauman en Swartland op heelagter prominent.
In teenstelling hiermee het Berge se tweedes sy kragmeting teen Hammies verdienstelik 15-7 gewen.
Jason Muller (haker) en Errol Jaggers (heelagter) het drieë gedruk en Jaggers het met ’n doelskop en strafdoel geslaag.
Ander uitslae: Helderberg III 12-22 Hamiltons III; Helderberg o.20A 10-22 Hamiltons o.20A.
Hierdie Saterdag (26 Maart) reis Helderberg na Parow vir wedstryde teen NTK, voordat die ligabepalings Saterdag 2 April afskop met ’n derbydag teen St. George’s by Charles Morkel-stadion.

