Twee skietvoorvalle, ’n uur uit mekaar uit, het Strand se inwoners Maandag (23 Oktober) op hol gehad.
’n Drukgroep wat aan die begin van Oktober gestig is nadat hulle keelvol begin raak het vir misdaad, het hul eerste vreedsame optog op Maandag (23 Oktober) tot by Strand se polisiekantoor geneem nadat ’n jongman ure vantevore sy lewe in ’n skietvoorval verloor het.
’n Moordsaak word ondersoek nadat ’n 19-jarige-man in Sercorpark in wat bestempel word as ’n bende-skietvoorval, noodlottig in die kop gewond en kort daarna oorlede is.
“Mense het hulle na hom gehaas en by hom gehurk in die straat en hulle kon hoor hoe hy roggel net voor hy dood is,” sê Zorah Motasi, die stigter van die Vroue in Aksie-beweging, wat ook deel is van die drukgroep, Strand Community Concern Group.
Die voorval het Maandagoggend 10:30 in Jasminstraat plaasgevind.
“Die ondersoek is tans aan die gang, maar ’n 21-jarige verdagte is aangekeer,” is al wat Strand-polisie oor die saak kon onthul.
Die slagoffer se identiteit is bekend aan DistriksPos & Helderberg Gazette, maar uit respek vir die familie word sy naam nie genoem nie.
Vyf ure later om 15:30 het die drukgroep se ondersteuners in Gustrouwlaan vergader en soos hulle gestap het, het meer en meer mense aangesluit.
Die drukgroep is kort ná Woensdag 4 Oktober op die been gebring nadat bendelede in Solly Arendsestraat in Gustrouw losgebrand het en tussen die huise skote afgevuur het.
Twee minderjarige kinders is in ’n woning raakgeskiet en kort ná die voorval het die ontstelde gemeenskap ’n WhatsApp-groep gestig waarby honderde inwoners in Gustrouw en verskeie ander misdaad-gevulde woongebiede in die Strand aangesluit het.
Motasi het juis die groep op WhatsApp begin nadat verskeie mense haar ná die einste skietvoorval genader en gevra het om hulle by die groepie te voeg (“‘Basta met misdaad!’,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 11 Oktober).
Sebastian Cloete, een van die leiers van die drukgroep, vertel dat diens ontbreek by Strand-polisie en hulle bedien nie die gemeenskap nie en dis juis hoekom die drukgroep na die polisiekantoor gestap het.
“Die polisie het ons die heeltyd aan ’n lyntjie gehou. Hulle het ons nie kop toe gevat nie. Ons moes tot drie ure gewag het vir die stasiekommissaris om met ons te kom praat. Later is die openbare orde-polisie (POP) ontbied om ons te kom toespreek, maar ons het ’n vreedsame optog gehou. Ons het nie ’n memorandum gehad nie, ons wou net voor die polisiekantoor bymekaar kom om hulle daarvan bewus te maak dat ons as ’n gemeenskap ontevrede is oor die stand van misdaad in Strand,” sê Cloete.
Owerhede is ontbied vir ’n tweede onverwante skietvoorval wat Maandagmiddag (23 Oktober) helder oordag in Strand plaasgevind het. Die skote is eers vir ’n skietery tussen polisiebeamptes en drie vermeende huisrowers aangesien, maar die polisie het bevestig dat dit eintlik ’n vrou wat minute tevore beroof is, se man was wat skote op die rowers afgevuur het.
“Ek het die skietery gehoor. Daar was eers vyf skote en toe twee skote,” sê ’n persoon van Strand wat in die omgewing was van die skietvoorval terwyl ’n ander een verby die toneel gery het soos dit in Broadway Boulevard gebeur het en net-net gemis is deur ’n koeël.
Volgens sersant Mthokozisi Gama, woordvoerder van die Lwandle-polisie, het drie verdagtes vroeër die dag teen net ná 11:00 se kant ’n huisroof in Asanda Village in Nomzamo uitgevoer.
’n Vrou is volgens Gama in haar huis deur die verdagtes met vuurwapens gedreig en in die huisroof is ’n TV-stel, twee skootrekenaars, vier selfone, vyf pare tekkies, vier bottels wyn en ’n onbekende bedrag geld gesteel.
“Die drie verdagtes sluit toe die vrou toe in haar huis en vlug van die toneel af in ’n silwer Toyota Corolla Quest,” sê Gama.
Die vrou wat in die huis toegesluit is lig toe haar man in van wat gebeur het en hy (haar man) sien toe die voertuig verby hom ry op die hoek van Hlathi-rylaan en die N2, waar die verdagtes in die rigting van Strand gery het.
“Die man het toe op die verdagtes se voertuig probeer skiet, maar sy vuurwapen het geweier. Nabye polisiebeamptes het gesien hoe die man probeer om skote af te vuur op die verdagtes se voertuig.
“Die voertuig het weggejaag en die polisie het dit agtervolg.
“Intussen het die man weer sy vuurwapen reggekry en aanhoudend skote op die motor afgevuur terwyl hy en die polisiebeamptes die verdagtes agtervolg het en hulle veilig gestop en in Broadway Boulevard aangekeer het,” vertel Gama.
Polisiebeamptes het hierna die voertuig deursoek en die gesteelde goedere asook twee nagemaakte vuurwapens in die verdagtes se besit gevind.
“Die verdagtes, wat tussen 32 en 46 jaar oud is, sal in die Strand-landdroshof verskyn sodra hulle aangekla is,” sê Gama.



