Van links: Chris Petzer (bedryfsdirekteur by Two-a-Day), die LUR vir mobiliteit, Isaac Sileku, Corrine Gallant (departement mobiliteit adjunk-direkteur van vrag), Fezile Mbambo (department mobiliteit direkteur van landelike vervoerintegrasie), en Chris Knoetze (bestuurshoof van Link Supply Chain Management).

Verteenwoordigers van die provinsiale departement van mobiliteit het verlede Maandag (11 Augustus) as deel van vragfokusmaand by Two-a-Day in Grabouw, een van die Wes-Kaap se grootste vrugteprodusente en -uitvoerders, besoek afgelê.

Die besoek het die deurslaggewende rol wat vrag vervul – om voedsel van plase na plaaslike en buitelandse markte te bring – beklemtoon.

Dit was deel van die departement se bewustheidsveldtog oor hoe noodsaaklik vrag vir die alledaagse lewe en die ekonomie is en om oplossings te verken vir die verbetering van die vervoer van goedere padlangs, per skip of per spoor.

Luidens ‘n verklaring van die mobiliteitsdepartement is vrag die onsigbare krag agter voedselsekerheid.

“Elke appel wat verpak is en elke boks wat gestuur word, maak staat op goed funksionerende

logistieke netwerke en doeltreffende vervoerstelsels. Vir boerderygemeenskappe in die Wes-Kaap gaan betroubare vrag nie net oor ekonomiese geleenthede nie – dit is ‘n lewenslyn,” lui die verklaring.

Departementele amptenare het met Two-a-Day se leierskap, logistiek en pakhuisspanne tesame met aandeelhouers, Link Supply Chain Management en TruCape saamgewerk om die uitdagings wat landelike vrag in die gesig staar, beter te begryp – van hoërisiko-padinfrastruktuur,

hawe-ondoeltreffendheid en gapings in koueketting-kapasiteit tot hoë vervoerkoste.

Besprekings het gefokus op hoe die regering en die private sektor kan saamwerk om dié kwessies aan te pak deur samewerkende beplanning, geteikende beleggings en vernuwing.

“Sonder sterk landbou-vrag beweeg gewasse nie, markte kom tot stilstand, en landelike eko-

nomieë ly. Wanneer vrag werk, werk ons provinsie – werksgeleenthede groei, kos bereik gesinne en ons ekonomie floreer,” sê Isaac Sileku, die Wes-Kaapse LUR vir mobiliteit.

Volgens Chris Petzer, die bedryfsdirekteur by Two-a-Day, is vrag ‘n noodsaaklike deel van die maatskappy se sake en mededingendheid. “Besoeke soos hierdie help verseker dat die regering die werklike uitdagings wat ons in die gesig staar, begryp en dat ons saamwerk om praktiese oplossings te bewerkstellig,” sê hy.

Corrine Gallant, die departement se adjunk-direkteur van vrag, voeg by: “Agter elke vrug wat ons eet, is ‘n ketting mense, vragmotors en stelsels wat hard werk om dit vars en aan die beweeg te hou. Hierdie besoek het ten doel om na die bedryf te luister en daardie stelsels te versterk om meer inwoners meer doeltreffend te dien.”

Die departement moedig landbouprodusente, vragoperateurs en plaaslike owerhede aan om saam te werk om die landelike vragnetwerk in die provinsie te versterk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article