Riyaad Thomas (32) se werksbakkie is Maandag 2 Desember in die vroeë oggendure by ’n vulstasie in Broadway-laan gesteel.Foto: Riyaad Thomas


Die Lwandle-polisie ondersoek ’n klagte van motorvoertuigdiefstal nadat ’n 32-jarige man se werksbakkie Maandag (2 Desember) in die vroeë oggendure by ’n vulstasie in Broadwaylaan gesteel is.

Volgens Riyaad Thomas is hy tydens ’n kuier by ’n vriend in Rusthof, Strand, deur iemand wat aan hom bekend is, genader. Dié persoon het hom vir brandstofgeld gevra.

Thomas sê hy het omstreeks 02:00 na die vulstasie gegaan en by die geriefswinkel ingegaan om kleingeld te vra. Hy sê ’n rooi voertuig met die kennis se vriende het intussen langs sy bakkie gestop. Een van die mans het glo in sy voertuig geklim en daarmee weggejaag.

Die Lwandle-polisie sê egter die voorval het omstreeks 03:20 plaasgevind en bevestig vyf mans en ’n vrou is die verdagtes in die voorval.

“Niemand is nog in hegtenis geneem nie, en niemand is tot dusver aangekla nie,” sê sersant Mthokozisi Gama, die polisiewoordvoerder.

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om die Lwandle-polisie by 021 845 2060 te skakel.

Thomas, ’n pa van drie, sê die voorval het sy onderneming op die knieë gedwing.

“Ek het in 2020 met niks begin – net ’n ou CitiGolf waarvan ek die agtersitplekke uitgehaal het sodat ek my toerusting kon vervoer. Ek het elke sent gespaar om daardie bakkie te koop. Dit was my trots en ’n bewys van hoe hard ek gewerk het,” sê hy.

Met die feestyd om die draai voel hy verslae.

“Dis my besigste tyd van die jaar. Ek het altyd trots gevoel dat ek vir my drie kinders kon voorsien, maar nou moet ek sonder my werksvoertuig klaarkom,” sê Thomas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article