’n Skitterende jong rugbyster, wat met puik prestasies op en weg van die sportveld spog en sy drome met voorbeeldige dryfkrag sonder keer najaag, is onder die land se voorste skolerugbyspelers in verskeie afdelings in vanjaar se aanlyn Rugga-toekennings benoem.
Die talentvolle rugby-uitblinker Gino Cupido is in drie afdelings benoem, naamlik agterspeler van die jaar, mees waardevolle speler en speler van die jaar en is een van die kandidate wat meer as 100 benoemings op die Rugga-webtuiste ontvang het.
Benoemings is tussen Maandag 4 en Sondag 10 September aanvaar, met die top-10 wat Maandag 11 September aangekondig is.
Die publiek is ook aangespoor om van dié Maandag tot Vrydag 22 September te stem, waarna die drie bestes in elke afdeling geïdentifiseer is.
Nadat die stemmery kort voor die Septembermaandeinde gesluit het, het Gino as een van die voorlopers in die Mees waardevolle speler-afdeling met ongeveer 25% van die publiek se stemme aan sy kant onder die topfinaliste deurgedring.
Dié 18-jarige van Sir Lowry’s Pass het in afwagting op die uitkoms daarvan sy opgewonden-heid oor sy benoemings en sy trots om erken te word as een van die land se beste jong rugbytalente, waarvan daar baie is, uitgespreek.
“Dit dien net as motivering om harder te werk en hoër mikpunte na te streef,” het Gino gesê.
Die wenners was nog nie teen die koerant se druktyd (Dinsdag 10 Oktober), aangekondig nie. Die Rugga-webtuiste het verduidelik: “Die reaksie op die benoemingsproses was, om die minste te sê, oorweldigend. Die aantal talentvolle spelers in Suid-Afrika is verstommend.”
Die kranige rugbyspeler het sy liefde vir die kontaksport as ’n gr. 2-leerder aan Sir Lowry’s Pass Primêre Skool ontdek en ná sy eerste wedstryd geweet die gogga het gebyt. Hy koester soete herinneringe van die wedstryd waartydens hy twee drieë vir die wenspan aangeteken het. Hy het met besonderse prestasies op die rugbyveld in gr. 2, gr. 3 en gr. 7 ’n diploma as sportman van die jaar ontvang.
Gino is die afgelope twee jaar in die o.18- Westelike Provinsie-Cravenweekspan en SA-A-skolespan opgeneem. Hy het vanjaar ook die land se vlag as lid van die SA o.18 7’s-span vir die Statebond-jeugspele in Trinidad en Tobago gewapper.
Gino presteer egter ook as ywerige atleet, en was verlede jaar as 16-jarige kaptein van Hoërskool Strand se atletiekspan. Dié veelsydige sportman is drie tot vier dae in die gimnasium en op die veld om fiks te bly, sy spoed te bevorder en sy vaardighede te slyp – alles om elke keer wat hy die veld aandurf, ’n beter speler as voorheen te wees en net sy beste te lewer. Sy groot sportdroom is om eendag in groen-en-goud op die rugbyveld uit te draf en die land in ’n rugbywêreldbeker te verteenwoordig.
Hoewel Gino opkyk na geesdriftige rugbyreuse soos Nieu-Seeland se Rieko Ioane en Springbok Lukhanyo Am, put hy inspirasie uit sy geliefde ma, Zelna.
“Ek waardeer my ma en bewonder die glimlaggende, liefdevolle mens wat sy is ten spyte van alles wat sy al in die lewe deurgemaak het,” het hy verduidelik.
Die Hoërskool Strand het ter ondersteuning van die matrikulant met ’n Facebook-inskrywing wat wyd en syd op sosiale media gedeel is, ’n beroep op die gemeenskap gedoen om vir dié Arend-trots te stem.
Op ’n vraag hoe die skool oor dié voorbeeldige gr. 12-leerder se benoeming voel, het die bemarker, Anso Kemp, gesê: “Gino is ’n voorbeeld vir alle rugbyspelers in die gemeenskap. Hy het bewys dit is nie nodig dat rugbyspelers in groot skole moet wees om dit in die rugbywêreld te maak nie. Dit verg harde werk – nie die naam van die skool nie. Gino het dit uit en uit bewys.”
Kemp het Gino beskryf as ’n hardwerkende jong man wat daarna streef om slegs sy beste te lewer.
“Gino is nederig en motiveer almal om hom om beter te wees. Niks het hom tot dusver ondergekry nie. Hy styg bo sy omstandighede uit en streef om vir ander ’n voorbeeld te wees.”



