Die legendariese minnesanger Engelbert Humperdinck se The Last Waltz Farewell Tour kom dié maand na Suid-Afrika.
Dié Britse musikant bekoor al dekades lank gehore met sy tydlose klassieke treffers en charismatiese optredes.
Nou, ná ’n roemryke loopbaan wat oor ses dekades strek, het hy sy laaste wals aangekondig. Hy is slaggereed om gehore in Kaapstad en Gauteng een laaste keer met romanse van hul voete te vee.
Humperdinck, gebore as Gerry Dorsey, het reeds in 1965 internasionale bekendheid met sy romantiese melodieë verwerf. Met treffers soos ‘‘Release Me’’, “A Man without Love’’ en ‘‘The Last Waltz’’ het hy meer as 150 miljoen albums wêreldwyd verkoop en vele prestasies verower, insluitend vier Grammy-benoemings en ’n Golden Globe vir Vermaaklikheidster van die Jaar.
Hy is ook een van ’n handjievol kunstenaars wat ’n ster op beide die Hollywood Walk of Fame en die Las Vegas Walk of Fame het.
Hy het sy kreatiewe metodes in ’n onlangse onderhoud só beskryf: “Ek het nog altyd my musiek met ’n tikkie romanse benader en dit soveel geniet om wonderlike lirieke oor die liefde te sing. Ek dink romanse laat die wêreld draai.”
Dis hierdie onblusbare passie vir musiek wat steeds by gehore aanklank vind.
As hy terugkyk op sy pad tot hier, dink hy graag aan sy kinderjare in die voormalige Madras, Indië, waar sy liefde vir musiek binne sy gesin geblom het.
Ten spyte van vroeëre struikelblokke in sy loopbaan, het hy uithouvermoë gewys en uiteindelik sukses met liedjies soos “Release Me” behaal, wat die koers van sy lewe en loopbaan vir altyd verander het.
Engelbert Humperdinck se invloed het veel wyer as net musiek gestrek. Dit het tot vriendskappe met Elvis Presley en Dean Martin asook Tony Bennet, Jerry Lewis en Sammy Davis junior gelei.
Engelbert Humperdinck tree Sondag 14 Julie om 16:00 in die Grand Arena by GrandWest op.
Bespreek by www.webtickets.co.za.
V WEN! WEN! WEN!DistriksPos & Helderberg Gazette-lesers kan ’n stel dubbelkaartjies na die konsert wen. Om in te skryf, stuur e-pos met die woord “ENGELBERT”, gevolg deur ’n kort motivering waarom jy graag die konsert wil bywoon, na editor@districtmail.com. Voeg ook jou naam en kontakbesonderhede by. Die kompetisie sluit om 17:00 Dinsdag 9 Julie en die naam van die wenner word Woensdag 10 Julie getrek. Die wenner sal telefonies in kennis gestel word.



